
Dr. Jack Armour, handelsbestuurder van Vrystaat Landbou, sê die provinsie se paaie is ’n groot ekonomiese lewensaar vir die Vrystaat en moet dus doeltreffend in stand gehou word.
Armour het op ’n vergadering met me. Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en provinsiale amptenare by die berugte R30-pad naby Allanridge gesê die R30 is maar een van die vele lewensgevaarlike paaie in die Vrystaat.
Boere en verteenwoordigers van Vrystaat Landbou het by die gedeelte van die R30 bymekaargekom wat Ntombela onverwags ’n week gelede gesluit het ná verskeie noodlottige ongelukke.
Die boeregemeenskap het Ntombela se aankondiging dat die pad gesluit gaan word om ’n brug te bou nie verwelkom nie aangesien hulle nou van die silo’s en kerke afgesny is. Verder word die wenslikheid van ’n brug bevraagteken weens die koste van die oprigting daarvan.
Armour sê Ntombela en mnr. Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het ná die vergadering met die boere aangekondig dat ’n vergadering tussen plaaslike boere met ’n ingenieursagtergrond, provinsiale ingenieurs en ingenieurs van Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) belê sal word.
Vrystaat Landbou het ’n memorandum vir mnr. Fikile Mbalula, minister van vervoer, voorberei. Hy was veronderstel om die vergadering by te woon, maar het nie opgedaag nie.
In die dokument word onder meer geëis dat:
1. ’n Deeglike, professionele ingenieursverslag opgestel word om alternatiewe te oorweeg vir die R30, wat opgeweeg moet word teen die voorgestelde onbekostigbare, duur brug;
2. Die bestaande R30 veilig oopgemaak word met die nodige 24-uur-ry-stopbeheer wat boere in staat sal stel om hul produkte by die silo’s en/of mark te kry en besigheid nie ontwrig nie;
3. Die nasionale regering die provinsiale regering aanspreeklik hou vir vrugtelose uitgawes, in ooreenstemming met die bevindinge in die verslag van die ouditeur-generaal;
4. Die grondpaaie dringend aandag kry ná jare van swak en onvoldoende onderhoud; en
5. Die topswaar personeelstruktuur van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer krities hersien word om geld beskikbaar te maak om meer algemene werkers en skraperoperateurs in diens te neem.
Volgens Armour het mnr. William Bulwane, Vrystaatse LUR vir landbou, hom daartoe verbind om binne drie weke ’n vergadering tussen Vrystaat Landbou en Mbalula te belê.
“Vrystaat Landbou veroordeel die misbruik van staatsgeld soos uitgelig in die verslag van die ouditeurgeneraal, en die verval van die nasionale infrastruktuurnetwerke, dermate dat dit ’n groot impak op die plaaslike, provinsiale en nasionale ekonomieë het, die vermoë van die private sektor om werk te skep en boere om kos te lewer om die nasie te voed.”