Smokkelhandel in veral bees-voorkwarte word tans op die grens van Botswana en Suid-Afrika ondersoek, sê Agri Inspec.
Die maatskappy het afgevaardigdes van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se nasionale jaarkongres ingelig oor die ondersoeke wat hy tans onderneem.
Mnr. Henk Heslinga, senior forensiese bestuurder, sê nog nie veel inligting kan tans bekend gemaak word oor die ondersoek nie, aangesien dit nog nie afgehandel is nie. “Ons het klagtes in dié verband ontvang, en die ondersoek is tans in ‘n gevorderde stadium.”
Die Zimbabwiese grens
Volgens Heslinga ondersoek die maatskappy ook tans onwettige handel in vee wat oor die Zimbabwiese grens voorkom. Hy sê drie “bosslaghuise” is al uitgeken waaraan die diere gewoonlik gelewer word. Baie van dié diere word na die Masisi- en Musina-omgewing vervoer.
“Van die diere word reeds in Zimbabwe geslag en met die vel aan met donkies na Suid-Afrika vervoer. Ander beeste, vermoedelik gesteelde vee, word oorgejaag en van dié vee word met bakkies tot sover as Venda vervoer. Die ondersoek gaan ook nog voort.”
Smokkelhandel op Namibiese grens
Intussen sê Heslinga nog voorvalle van vermeende smokkelhandel van speenkalwers het die afgelope maand op die Namibiese grens voorgekom. “Van dié kalwers was baie groot, sommige het horings gehad en hulle was in ‘n swak kondisie. Volgens ons is baie van dié diere ook onderverklaar.”
Volgens Heslinga is boetes van sowat R2,8 miljoen reeds opgelê oor die onderverklaring van speenkalwers op die Namibiese grens.
Hoe vorder die ondersoek?
Dr. Hennie Kleynhans, hoof uitvoerende beampte van Agri Inspec, sê sedert daar met die ondersoek op die grens begin is, “is die ouens baie meer versigtig op die grens”. Die ondersoek is begin nadat die RPO Agri Inspec met klagtes in dié verband genader het.
Hy sê vroeër vandeesmaand is daar talle gesertifiseerde dokumente op die grens ontvang waarvolgens diere onderverklaar is.
“Volgens die een verslag is 75 speenkalwers teen 100kg per kalf onderverklaar met 42 000kg. ‘n Ander wys 115 speenkalwers waarvolgens elke kalf 17kg weeg. In Augustus het ons invoer van R6,41/kg beesvleis gesien, waar die aanvaarbare prys R14,64/kg is. En hoender teen R1,77/kg teenoor die aanvaarde R3,20/kg.”
Kleynhans sê dié ondersoek het “ ’n hewige bakleiery” ontketen en hulle vergader Maandag (20 September) met die verskeie plaaslike rolspelers en organisasies van Namibië om weer met hulle die verslag oor die ondersoek te bespreek en die inligting met hulle te deel.
Ondersteuning
Die afgevaardigdes by die kongres het hul tevredenheid oor Agri Inspec se ondersoeke uitgespreek en hul steun aan die maatskappy toegesê.
“Die RPO is nie besig met ‘n grootskaalse vervolgingsaksie nie. Vir ons bedryf om te oorleef moet ons eerstens verseker dat die Suid-Afrikaanse mark nie verwring word nie en tweedens dat grense behoorlik gemonitor word,” sê mnr. Arnold Brand, voorsitter van die RPO.
16 September 2010