
Ondernemings in die landbou, veral voedselverwerkers, gaan voortdurend uitdagings beleef om hul kragtoevoer te bestuur om bedryfsvereistes te kan nakom.
“Dit is ironies en eintlik hartseer om te sê, maar diegene wat dit doeltreffend bestuur, sal ‘n mededingende voordeel bo hul mededingers hê,” sê dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die landbousakekamer Agbiz.
Op ‘n vergadering van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) in Desember met me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Energie, was dit duidelik dat die situasie van beurtkrag elke nou en dan, nog minstens drie tot vier jaar gaan voortduur, sê Agbiz in sy nuusbrief.
Besigheidseenheid SA (Busa) sou teen druktyd ‘n vergadering met die Regering oor energie gehad het, maar Purchase sê te oordeel aan “die absoluut onbenydenswaardige posisie” waarin die land hom bevind, het hy nie hoop dat daar goeie nuus uit die vergadering kon kom nie.
Hy moedig ondernemings aan om benewens ‘n strategie vir beurtkrag, wat onvoorspelbaar is, ook ‘n strategie te hê vir die ergste scenario van ‘n ineenstorting van die kragstelsel.
“Dít kan katastrofiese gevolge hê, omdat dit weke kan duur om die netwerk weer aan te skakel.”
Purchase sê daar moet nou druk op die nuwe Eskom-raad geplaas word om die kragmaatskappy te herstruktureer sodat kragopwekking en kragverspreiding geskei word.
Dit sal ‘n omgewing help skep vir private ondernemings om veel meer by kragopwekking betrokke te raak, veral ook ten opsigte van hernubare energiebronne.
Dit is belangrik dat die Regering en Eskom toenemend ooreenkomste met onafhanklike kragvoorsieners sluit en dat ‘n gunstiger omgewing vir sulke voorsieners geskep word.
“Die Regering, deur die Nasionale Energiereguleerder (NERSA), was baie laks hiermee, die omgewing was nog nooit gunstig genoeg nie, selfs al is daar private ondernemings wat baie gretig is om betrokke te raak.”
Die webblad vir Eskom se beurtkraginligting is http://loadshedding.eskom.co.za. Van hierdie webblad af kan ‘n mens ook na munisipaliteite se inligting oor beurtkrag gelei word.