
Mnr. Phophi Raletjena, ’n boer van Limpopo, het op Aartappels Suid-Afrika se transformasiesimposium gesê daar is baie geld in die land om meer suksesvolle swart boere te produseer, maar die regering se modus operandi laat veel te wense.
“As ’n mens op papier kyk, behoort die regering hom te skaam omdat daar van 1994 tot nou minder as 1% swart aartappelboere (ontwikkel) is.” Dit terwyl miljarde rande bestee word.
Raletjena het gesê Aartappels Suid-Afrika bereik baie meer met baie minder geld.
Politici, tenderpreneurs en staatsamptenare steel volgens hom “wettig”, sodat ’n mens hulle nie hof toe kan neem en die saak wen nie. Sulke mense hou die land terug – nie net swart boere nie, maar ook diegene wat baat sal vind by suksesvolle swart boere.
Raletjena het gesê hy het aanvanklik op kommunale grond begin boer en sy sukses is die uiteindelike produk van ’n hele klomp samewerkings.
Hy was in 2011 die eerste keer deel van Aartappels Suid-Afrika se ontwikkelingsprogram, maar nadat hy toe besef het hoe kapitaalintensief aartappelboerdery is, het hy die volgende jaar nie deelgeneem nie.
In 2013 het hy weer deel geword van die program en in 2018 was hy die program se boer van die jaar. Die organisasie het vir hom ’n mentor aangestel, hy het werksessies bygewoon, die Universiteit van Pretoria besoek, opleiding gekry in finansiële bestuur en is ook aan boere in ander Afrikalande blootgestel toe hy na ’n konferensie geneem is. Met sy terugkeer het hy besef “hoe gelukkig ons is om Suid-Afrikaners te wees.”
Vandag sluit Raletjena se boerderybedrywighede vee en gewasseproduksie in. Hy plant aartappels op 80 ha en pikantrissies (peppadews) op 10 ha.
Mede-boere dra by
Raletjena het sy mede-aartappelboere bedank, “wat eerlik hul heffings betaal, wat daartoe bygedra het om my te help produseer.” Hy het hulle as “ware landsgenote” bestempel.
Raletjena het ’n volhoubare onderneming in ’n diep landelike gebied en neem 80 tot 90 mense in diens wanneer hy in produksie is.
Hy hoop meer belanghebbendes sal by Aartappels SuidAfrika se program betrokke raak, sodat dit vir die finansiële sektor makliker sal word om swart boere te finansier.
Finansies
Me. Joyene Isaacs, voorsitter van die Landbounavorsingsraad, het opkomende boere by die simposium aangemoedig om hulself verskeie vrae af te vra, soos watter soort beleggings nodig is om ’n aartappelboerdery te laat werk, hoeveel geld hulle gaan maak, het hulle die regte besproeiingstelsel en verstaan hulle die land se waterbeleid.
Oor finansies het sy gesê baie swart boere dink hulle hoef nie belasting te betaal nie. Hulle behoort egter eintlik eerder te leer hoe om nie so báie belasting te betaal nie.
“Soms is dit goed om na die kommersiële boer te gaan en te vra: Hoe het jy dit gedoen?”
Oor versekering het sy gesê rampwetgewing maak voorsiening vir ’n mate van steun, maar nie vir gewasse nie en veral nie jaargewasse nie.
“Die regering is nie verplig om jou te help nie, want die wetgewing is nie ten gunste van oes-ondersteuning as daar ’n ramp is nie, net vir diere.”