
Minstens 100 mm het Vrydagnag in die Heilbron-omgewing in die Vrystaat geval en die Kliprivier ver buite sy normale wydte laat loop.
Mnr. Danie Myburgh, wat saam met sy pa, Marius, en broer, Alzan, op Boomplaas boer, sê hy kan net van een vorige keer onthou wat die rivier só wyd geloop het.
Die Myburghs het 100 mm se reën gemeet. “Van die boere in die omgewing het eenuur laasnag hul meters gaan uitgooi.” Boere wie se reënmeters meer as 100 mm kan meet, het sowat 150 mm gemeet.
Die Myburghs boer met mielies, soja, sonneblom, skape en beeste. Myburgh sê hulle het in die nag 19 lammers weens die reën verloor.
Dit het vanjaar al minstens 600 mm by hulle gereën en Myburgh sê die Kliprivier het al drie keer sy walle oorstroom. Die veld lyk baie mooi danksy die baie reën.
“Plek-plek is ons mielies mooi, maar plek-plek is daar lelike versuipskade. Waar die sandkolle is, is daar meer versuipskade, en waar die swaarder kolle is, is die mielies mooier. Dit is moeilik om nou al te bepaal hoe groot die skade is.”
Ná laasnag se baie reën, wat gelukkig deur die nag geval het en nie in ’n kort tydperk nie, is paaie in die omgewing onder water en Myburgh sê daar is van hul plase wat hulle vandag nie kan bereik nie.
Mnr. Frans Muller van die plaas Stillerust in die omgewing van die Hoogte-silo sê hy en ’n ander boer het vanoggend vir mekaar gesê dit het “100 mm plus” gereën, en “die plus is die eintlike ding”.
Om 100 mm se reën te kry, is nie so ongewoon nie, maar dis ongewoon dat alles so besonder nat is. Vir die hoeveelheid reën wat al die seisoen geval het, is die skade eintlik min, sê Muller, wat ’n gemengde boerdery het.
Muller en sy vrou, Cathy, het vanoggend oor die omgewing gaan vlieg. “Ons sal nie sommer gou weer die Kliprivier só wyd sien loop nie.” Die water loop na die Vaaldam.