
Oberholzer, wat in April 2023 kort ná sy uitvoerende hoof, mnr. André de Ruyter, Eskom gaan verlaat, sê hoewel daar baie opinies is oor hoe naby, óf ver Eskom se netwerk van ingee is, is daar nie sprake van ’n totale ineenstorting nie.
“Al is verskeie aansprake op grond van spesialiskennis oor hierdie onderwerp gemaak, is dit bloot gegrond op oppervlakkige waarneming. Die netwerk word intyds beheer, 24 uur per dag, deur van die kundigste mense ter wêreld. Hoewel ons verskeie hekke ingebou het, het ons nog nooit naby aan ’n totale ineenstrting gekom nie,” het hy aan Landbou.com gesê.
“Al skep beurtkrag baie angstigheid en frustrasie, is dit juis tydens beurtkrag wat ons die mees gedetailleerde beheer oor die netwerk uitoefen. Verskeie ander kragvoorsieners het ons al genader om ons kennis, metodes en ondervinding met beurtkrag en noodvoorbereiding te deel.”
Verskil tussen algehele en gedeeltelike ineenstorting of kragdonkerte
Hy verduidelik ’n gedeeltelike blackout is wanneer daar nie kragtoevoer na ’n spesifieke geografiese gebied is nie.
“Daar word ook in Engels na brownouts verwys. Dit is normaalweg die gevolg van infrastruktuur wat onklaar raak, byvoorbeeld tydens ’n sneeustorm of oorstroming waar lyne verspoel, torings kan omval, bome op lyne val en só toevoer na die gebied opskort. Dit kan ook gebeur as transformators by ’n substasie wat die hooftoevoer na ’n dorp of gebied is, onklaar raak. Dit is egter ’n baie skaars gebeurtenis en sal tipies ’n hele dorp of groter gebied beïnvloed.”
’n Totale ineenstorting (blackout) vind eers plaas wanneer die hele kragnetwerk in die land onklaar raak, maar volgens Oberholzer is dit hoogs onwaarskynlik in Suid Afrika.
“Daar is verskeie voorsorgmaatreëls of hekke ingebou in die manier waarop ons die netwerk beheer om juis so ’n scenario te voorkom. Dit is dan ook waarom ons beurtkrag toepas, asook verskeie stadiums daarvan sodat ons aanvraag en voorsiening kan balanseer en die frekwensie stabiel kan hou met verskeie inkrementele stappe.”
Benewens beurtkrag maak Eskom ook gebruik van vrywillige vermindering van aanvraag vanaf sy groot nywerheidsverbruikers, noodreserwes en verskeie stadiums van outomatiese lasvermindering.
“Dit is ingebou as beurtkrag nie die aanvraag vinnig genoeg kan verminder nie. Dit sou dus teoreties net kan gebeur nadat alle moontlike beurtkrag toegepas is en alle noodmaatreëls ingetree het en die frekwensie nie gestabiliseer kan word nie. Ons het baie goeie beplanning om so ’n scenario te hanteer as dit ooit nodig word.”
As die kragnetwerk wel ineenstort . . .
Dit kan tot twee weke duur as Eskom se kragnetwerk heeltemal ineenstort.
“Dit sal afhang van die presiese omstandighede met die tyd van so ’n ineenstorting. Ons reken dit sal van ’n paar dae tot ongeveer twee weke duur om alles te herstel as daar nie sekondêre foute voorkom nie. Natuurlik sal dit stapsgewys gedoen word en sommige kliënte sal voor ander krag hê. Dis belangrik omdat die opbou van die netwerk sal vereis dat die aanvraag en aanbod deurentyd gebalanseer sal moet word.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.