Die dae dat ’n enkele party in Suid-Afrika regeer, is waarskynlik getel. Dit is hoogs waarskynlik dat Suid-Afrika ’n fase van koalisiepolitiek tegemoet gaan. “Pres. Cyril Ramaphosa sal waarskynlik in Desember herverkies word tot die ANC se president, maar ek meen hy gaan nie sy termyn as president in 2024 voortsit nie.
Ek dink ons kan regmaak vir ’n koalisie, soos wat ons onlangs in Durban gesien het, waar die ANC moes hande vat met ’n kleiner party,” sê prof. William Gumede, politieke ontleder van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir regeerkunde.
Hy meen dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie, want twee van die suksesvolste lande in Afrika – Mauritius en Botswana – word al jare lank deur koalisies regeer.