
Van die 128 ondernemings in staatsbesit is Eskom, Transnet, die Transnet-hawe-owerheid (TNPA), die Land Bank, die Landbounavorsingsraad (LNR), die Landboubemarkingsraad, Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) , Nedlac, die raad vir uitvoer van bederfbare produkte (PPECB), die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) en die mededingskommissie volgens Purchase die belangrikste vir die landbou.
Hy sê hierdie instellings is op die been gebring om ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika te vergemaklik, maar baie van hulle is tans juis die rede hoekom die ekonomie nie groei nie, met Eskom, Transnet en TNPA as die grootste struikelblokke vir ekonomiese groei.
Purchase het gesê die tienpuntplan wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs aangekondig het om Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening en -verspreidingsnetwerk van totale verval te red, is bemoedigend. Dit gaan die private sektor in staat stel om sy eie krag op te wek en selfs aan die staat te verkoop.
Dit gaan egter lank duur voordat al Eskom se probleme aangepak is en die instelling in die land se elektrisiteitsbehoeftes kan voorsien. Daarom moedig Purchase boere en landboubesighede aan om hulself te speen van Eskom en hul eie elektrisiteit op te wek.
Hawens en paaie
Wat Transnet betref, het hy gesê die georganiseerde landbou en die sakesektor is voortdurend in gesprek met Transnet en is hard besig om data te ontleed wat bottelnekke by hawens uitwys. “Ons kyk wat verkeerd gaan en hoe ons dinge kan bespoedig vir vinniger omdraaitye by hawens. Dit werp reeds vrugte af. By van ons hawens is daar reeds ’n 30%-verbetering in doeltreffendheid.”
Purchase het gesê egter hy betreur die departement van vervoer se afwesigheid in hierdie hele proses. “Hulle is net nêrens en dit is juis die departement met wie ons moet praat om byvoorbeeld die verhouding tussen spoor- en padvervoer te verbeter en om lewensvatbare vennootskappe op spoorinfrastruktuur en -bestuur te beding.”
Land Bank
Die ander groot struikelblok in die pad van groei vir die landbousektor is die Land Bank. Purchase het gesê hy sien nie ’n vinnige oplossing vir dié instelling se probleme nie. “Die Land Bank is in ’n taai situasie en dit kan jare duur om reg te ruk. Boere gaan vir die voorsienbare toekoms op handelsbanke en landboubesighede aangewese wees vir landboukrediet. Die IDC is ook besig om na landboufinansiering te kyk, hou dit in gedagte.”
Van die ander staatsondernemings doen die Landboubemarkingsraad en PPECB nog goeie werk, terwyl Nedlac en die mededingingskommissie albei ’n belangrike rol speel.
Die LNR is egter nie meer wat dit was nie en OBP het die sektor heeltemal in die steek gelaat. Purchase het voorspel dat albei hierdie organisasies se funksies al hoe meer deur die private sektor oorgeneem gaan word.
“Daar is dus baie probleme wat groei vir ons sektor moeilik maak, maar daar is net soveel geleenthede. Ons moet oplossings kry. Ons is mos boere en ’n boer maak ’n plan.”