
Die lang verwagte minimumloon vir SA is deur adj.-pres. Cyril Ramaphosa bekend gemaak.
Dit volg ná twee jaar van onderhandelinge wat op verskeie vlakke plaasgevind het, het Ramaphosa gesê. “Dit bring sekerheid vir die landbou oor die vergoedingsvlakke wat in die volgende jaar betaalbaar sal wees,” sê mnr. Neil Hamman, voorsitter van Agri SA se beleidskomitee oor arbeid, in 'n nuusverklaring.
Die aankondiging oor ‘n nasionale minimum loon wat op 1 Mei 2018 in werking tree, is gebaseer op 'n uurlikse tarief van R20. Die landbousektor sal vir eers 90% van dié loon moet betaal. Dit kom daarop neer dat die landbou R18 per uur moet betaal. Die 2018-implementeringsdatum is nou 'n jaar vroeër as wat aanvanklik aangekondig is.
Van Maart 2017 afDie landbou sal reeds vanaf Maart vanjaar R15,39 per uur betaal. Dit is na aanleiding van 'n verhoging wat deur die Minister van Arbeid aan die minimumloon vir die landbou aangebring is, wat die minimumloonvlak vir die landbou reeds met 8% verhoog het. Dit bring die landbou reeds nader aan die loon wat pas aangekondig is, sê Hamman.
“Agri SA ag die arbeidsmag in die landbousektor van onskatbare waarde. Die sektor word tans nog in baie dele van die land deur die droogte geraak en verskeie boere moet nog herstel van die impak daarvan. Die sektor herstel ook nog van die groot verhoging in vergoedingsvlakke wat in 2013 ingestel is,” sê Hamman.
Doen aansoek om verligting“Boere wat steeds nie in 'n posisie gaan wees om die verhoging te bekostig nie, kan aansoek doen om Artikel 50-variasie” sê hy. Voor die inwerkingtreding van die nasionale minimumloon in 2018 sal boere kan aansoek doen vir dié variasie. Die variasie kan slegs toegestaan word vir 'n jaar-tydperk. Dit kan help met tydelike verligting.
Hieronder is die loonstrukture van toepassing op die landbou vanaf 2016 tot 2020, soos wat Agri SA dit bereken het.