
Wes-Kaapse boere kan hulle gereed maak vir toenemend droër toestande in dié provinsie oor die lang duur, maar alles is nie verlore vir die landbou nie. Plekke soos die Suid-Kaap kan selfs nuwe geleenthede vir produsente inhou.
Hoewel die huidige droogte die ergste in ’n eeu is, dui dit nie noodwendig op klimaatverandering nie. “Suidelike-Afrika is egter een van die streke waar ons vorentoe meer gereelde droogtes kan verwag,” sê prof. Stephanie Midgley, onafhanklike navorser wat ook verbonde is aan die fakulteit van agriwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was ’n genooide spreker by Agri Wes-Kaap se kongres op Goudini.
Westewinde wat meer suidwaarts skuif en in die pad staan van koue fronte wat reën bring, sal hierdie droër toestande meebring. Dit sal verhoed dat die fronte land bereik.
Besproeiingslandbou bly staan
“As ons die waterkrisis kan oplos en die wateraanbod vir die landbou kan verseker, sal die provinsie egter lewensvatbaar bly vir besproeiingslandbou en die produksie van die meeste gewasse en vee waarmee daar tans geboer word. Dis mits die damme gevul en die waterinfrastruktuur goed onderhou en bestuur word. Baie van die gewasse en vee wat ons hier het, sal eintlik goed aanpas en selfs positief reageer op die verhitting wat ons ervaar,” het sy gesê.
Gebiede wat reeds warm is, soos die Olifantsriviervallei, sal dalk nuwe planne moet maak. Dieselfde geld vir boere in Grabouw, waar dit straks te warm gaan wees om appels te produseer. ’n Plek soos Vredendal kry gewoonlik vier tot vyf baie warm dae (36°C en meer) per maand in Januarie en Februarie, maar ’n ekstra twee tot vier sulke warm dae kan vorentoe per maand voorkom.
Weerlose Weskus
Wat droëlandproduksie betref, sal verdroging en hittestres in veral die noordelike deel van die weskus voorkom. “Gebiede wat reeds marginaal is, sal verder onder druk geplaas word. Die Weskus is regtig ’n weerlose gebied.”
In die Karoo sal die verdroging minder erg wees, en daar is ’n groter moontlikheid op storms en somerreënval. “Sommige dele mag dalk ’n klein bietjie natter raak. Ons sien dit reeds in die noordoostelike dele van die provinsie.”
Die Suid-Kaap, waar daar meer gematigde toestande behoort te wees, kan moontlik ’n landbouparadys raak. “Die verhitting is nie so erg soos in ander dele nie en die streek sal na verwagting baie geskik vir die landbou bly. Ja, ons sien skuiwe in die reënval, maar daar sal moontlik meer reën in die skouerseisoene val. Die area is egter ook geneig tot droogtes en vloede, maar as die rampbestuursplanne in plek is, kan dit die een omgewing wees met baie landboupotensiaal.”
Reënvalpatrone
Winterreënval sal na verwagting regoor die provinsie afneem, maar dit geld veral die westelike streke. Teen windkant-berghange sal daar moontlik meer reën in die herfs en die lente val. Volgens Midgley lyk dit reeds asof die reënseisoen later begin, en ook later eindig. Daar is minder reëndae van Januarie tot April, maar ’n toename in November tot Desember.
Op Moorreesburg sal die winterreënval moontlik afneem, maar daar is ook ’n kans dat meer reën in die lente en vroegsomer kan val. Op Riversdale kan boere ook droër winters verwag, maar die skouerseisoene hou weer die kans vir verhoogde reënval in.