
Suid-Afrika se pas afgekondigde Vleisinspeksieskema wy 'n nuwe era vir vleisveiligheid in die land in, met vleisinspeksies wat volgens 'n onafhanklike stelsel sal geskied. Die nuwe onafhanklike stelsel sal beide die private en die openbare sektor betrek.
Dr. Gerhard Neethling, hoofbestuurder van die Rooivleisabattoirvereniging, sê buiten die voordeel van onafhanklikheid bied die skema verder eenvormige nasionale standaarde vir inspeksies – 'n waarborg van vleisveiligheid vir verbruikers.
Die minimum standaarde behels volgens hom nie net fisieke inspeksie van karkasse nie, maar ook die regulatoriese toepassing van aspekte soos dierewelsyn, higiëne, slagtegnieke, verkoeling en dokumentasiestelsels by abattoirs.
“Dit sal onregmatige mededinging in die bedryf, weens verskillende toepassings van regulasies, help voorkom.” Nog 'n voordeel van die skema, wat op 7 Julie in die Staatskoerant afgekondig is, is dat dit sal verseker dat abattoirs wat aan uitvoerstandaarde voldoen, vleisinspeksiedienste kan bekom wat aan invoerlande se standaarde voldoen.
Vennootskap
Die skema se doel is om seker te maak dat vleisinspeksie by alle abattoirs kragtens die Wet op Vleisveiligheid geskied. Dié wet is in 2000 ingestel, maar nooit volledig deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in werking gestel nie, sê Neethling.
Die vleisbedrywe vra al jare vir 'n inspeksieskema en die afkondiging is deur lang en robuuste gesprekvoering voorafgegaan.
Neethling sê die departement het sekere aanbevelings van die rooivleisbedryf wel aanvaar. “Die rooivleisbedryf het terselfdertyd sekere toegewings gemaak rakende eenvormige standaarde vir alle rooivleisprodukte.”
Privatisering 'n fout
Neethling sê in ander lande lewer of subsidieer die staat inspeksiedienste. In Suid-Afrika het die Regering egter in 1992 besluit om dit te privatiseer, iets wat later as 'n verkeerde besluit beskou is omdat dit die onafhanklikheid van inspekteurs in gedrang gebring het.
“Weens verskeie omstandighede is 'n staatsinspeksiediens nie in Suid-Afrika oorweeg nie,” sê Neethling.
“Die Vleisinspeksieskema baan nou die weg vir vleisinspeksiedienste as 'n kombinasie van openbare en private dienste.
“Die totstandkoming van 'n Vleisinspeksieforum, wat in die skema beskryf word, bied verder aan die vleisbedrywe die geleentheid om deel te wees van besluitneming oor die lewering van inspeksiedienste, sonder om die onafhanklikheid daarvan in te boet.”
Luidens die Staatskoerant geld die nuwe model vir 'n gesamentlike diens deur die openbare en private sektor by alle abattoirs met 'n hoë deurset en gereelde slagtings.
Neethling sê egter die staat se diens moet dringend in werking gestel word, om dienste volgens 'n minimum standaard aan alle verbruikers te kan verseker.
Agentskappe
Die eerste stap om die skema aan die gang te kry, is dat vleisinspeksie-agentskappe deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye aangestel moet word. Agentskappe kan tot 4 Augustus by provinsies aansoek doen.
Neethling sê dit is jammer die aansoeke kan nie nasionaal ingedien word nie, omdat dit vir agentskappe wat in meer as een provinsie werk, duplisering gaan veroorsaak. Die agentskappe moet onafhanklik van abattoirs wees, aan sekere integriteitsvereistes voldoen, en voldoende gekwalifiseerde personeel hê.
'n Abattoir sal inspeksiedienste deur 'n geregistreerde agentskap verkry, ingesluit die dienste van 'n inspekteur wat 'n veearts is. Neethling sê die belangrike verskil wat die skema bring, is dat die veearts deel sal wees van die agentskap se ooreenkoms met die abattoir. Die veearts sal ook meer uitgebreide funksies hê.