
Mielies
Wêreldwye mielieproduksie sal in 2016/’17 na verwagting 7% hoër wees. Internasionale pryse sal effens styg. Die swakker rand sal ondersteuning bied aan die uitvoer van mielies na lande in Suider-Afrika.
Suikerriet
Internasionaal sal suikerrietverbruik in 2016/’17 na verwagting steeds produksie oortref. Die plaaslike bedryf sal oor die volgende vier seisoene na die vorige produksievlakke herstel.
Koring
Langtermynvooruitsigte vir koringpryse dui op ’n sywaartse beweging in internasionale pryse. In Suid-Afrika sal die invoer van koring na verwagting afneem namate produksie toeneem. Volgehoue steun deur die Regering vir die huidige tariefstelsel is egter belangrik.
Oliesade
Die invoer van sonneblomsaadolie uit die Europese Unie en oliekoek uit Argentinië kan nog duurder word indien die rand, soos verwag, van November vanjaar tot einde Mei volgende jaar met 7% teen die euro verswak. Produsente wat beoog om sojaboonproduksie te verhoog, behoort ’n goeie prysaansporing te hê.
Wol
Internasionaal kan wolpryse in 2016/’17 deur ’n laer wêreldaanbod en sterker verbruikersvraag ondersteun word. Plaaslik kan die voorspelde normale tot bonormale reënval die gehalte van produksie verbeter en help met die herbou van die nasionale skaapkudde, wat produksie sal ondersteun.
Appels
Met die toenemende appelproduksie sal uitvoer as persentasie van Suid-Afrika se opbrengs na verwagting bly styg. Afrika bly ’n belangrike uitvoerbestemming.
Lemoene
Vooruitsigte vir die volgende vyf jaar lyk goed. Binnelandse pryse sal na verwagting uitvoerpryse na ’n hoër vlak volg.
Suurlemoene
Plaaslike produksie sal na verwagting met 2,7% per jaar styg.
Tafeldruiwe
Toekomstige mededingende uitbreiding na lande in die Verre-Ooste is kritiek, maar ondersteunende bilaterale handelsooreenkomste is nodig. Groeiende vetsug skep geleenthede vir tafeldruiwe as suiker-vervanger.