Slegte grondpaaie wat voertuie en vragmotors beskadig, is veral in die stroopseisoen vir boere ’n daaglikse probleem. Doen hulle self onderhoudswerk aan die paaie, stel hulle hul bloot aan skadevergoedingseise en miskien selfs strafregtelike klagte indien daar ’n ongeluk op die pad plaasvind.
Doen boere dit egter nie, verval die paaie tot ’n punt waar dit onbruikbaar is, wat alle ekonomiese aktiwiteit tot stilstand sal dwing. NWK het onlangs R500 000 beskikbaar gestel vir die opknapping van 400 km grondpaaie in Noordwes, met die samewerking van Agri Noordwes en die provinsiale departement van openbare werke.
Met die stroopseisoen onderweg, is daar in die eerste fase gekonsentreer op grondpaaie wat na en van NWK se silokomplekse lei sodat boere hul graanoeste so maklik moontlik by die silo’s kan kry. Mnr. Carey Hobson, ’n boer van die distrik Mareetsane, sê hy en ander boere van die omgewing is dankbaar vir NWK se hulp.