Suid-Afrika se beste steenkool word uitgevoer en Eskom moet sukkel om met steenkool van swak gehalte die land se ligte aan te hou. Daar word daagliks sowat 65 vragte steenkool van Eskom gesteel. Munisipaliteite skuld die energieverskaffer byna R49 miljard en betaal dit nie. Die plan om 50 GW se hernieubare opwekkingskapasiteit teen 2030 te skep, gaan die land sowat R1,2 triljoen kos. Dít is maar van die skoksyfers wat mnr. André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, gister op Agri Limpopo se aanlyn kongres gedeel het.
Die vervalle toestand en ouderdom van bestaande kragopwekkingsaanlegte regverdig in die meeste gevalle nie die koste om dit te herstel nie. De Ruyter het gewaarsku dat Suid-Afrika op die huidige trant 22 GW minder sal kan opwek teen 2035 en dat daar nou reeds gebou moet word aan aanlegte om daardie verlore kapasiteit te vervang.
De Ruyter het gesê Eskom kan dit nie bekostig nie en die staat se koffers is leeg. Private beleggers is dus die land se enigste hoop. “As ons hierdie krisis reg benader, kan ons groot geleenthede daardeur ontsluit.”