Groot kommer bestaan oor die Polisie se skietbeleid na ‘n boer van KwaZulu-Natal glo deur die Polisie doodgeskiet is, sê dr. Pieter Mulder, die leier van die Vryheidsfront Plus en die adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Volgens Mulder eis sy party ‘n volledige ondersoek na die gebeure rondom die 54-jarige mnr. Kobus de Vries van die Babanango-distrik, se plaas Donderdag (20 Januarie 2011). Vir meer oor die voorval, lees hier.
“In die lig van die Franse egpaar wat ook deur die polisie doodgeskiet is, is dit tyd dat die Polisie se skietbeleid weer ’n keer duidelik uitgespel en aan elke polisielid verduidelik word,” aldus Mulder.
Skiet-belustig
Mulder sê hy stem saam dat wanneer iemand op die Polisie skiet, hulle die reg het om hulself te verdedig. “Daar is egter ’n groot verskil tussen ’n professionele polisiemag wat geweld beheers aanwend en ’n “trigger happy”-polisiemag wat sonder enige oordeel hulle mag misbruik”.
“Die polisiemag se optrede moet altyd met minimum geweld gepaard gaan. As die polisie se skietbeleid nie duidelik is nie, kan enige lid van die publiek hom of haar skielik in ’n skietsituasie bevind na byvoorbeeld slegs ’n ligte verkeersoortreding,” meen Mulder.
In rug geskiet
Mulder sê as De Vries, soos wat sy familie beweer, in die rug geskiet is, ontstaan ernstige vrae oor die Polisie se optrede wat ondersoek moet word. Volgens Mulder is lede van die publiek al in verskeie hofsake skuldig bevind aan moord en strafbare manslag omdat hulle volgens ‘n regter te veel geweld gebruik het om hulself in ‘n geweldadige situasies te verdedig.
“Jy mag nie meer geweld aanwend as wat nodig is om die gevaar af te weer nie, is die regsargument. Dieselfde geld sekerlik ook vir die polisie”.
24 Januarie 2011