
Die soektog na die boorgate wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye teen miljoene rand gesink en toegerus het, kan nou uiteindelik begin met die navigasie-koördinate wat beskikbaar gemaak is.
Me. Annette Steyn, die Demokratiese Alliansie (DA) se skaduminister vir landbou, het na etlike maande inligting van die departement gekry oor waar hy, as deel van droogtehulp, boorgate gesink en toegerus het. Steyn sê hoewel sy bly is dat sy uiteindelik die koördinate het om self te gaan bevestig of die boorgate wel bestaan, is sy teleurgesteld dat nie baie water gekry is nie.
“Ek sal verdere vrae stel oor wie aangestel is om te help met die bepaling van waar die boorgate opgerig moet word. Die koste van die boorgate bekommer my ook steeds en ek gaan dit ook verder opvolg.” Steyn het op 19 April na Noordwes gereis om te sien of sy die boorgate hier, waarvan sy die koördinate gekry het, kan opspoor.
Jongste syfers
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê in ’n parlementêre antwoord aan Steyn dat sy departement 120 boorgate sedert 1 Oktober 2015 gesink het. Slegs 70 van die boorgate wat suksesvol en die gemiddelde koste van al die boorgate wat gesink is, is R550 per meter.
Hy het ook aangedui dat die nasionale departement geen boorgate toegerus het nie omdat dit nie sy mandaat is nie. Dit is die mandaat van die provinsiale departemente van landbou. Die provinsiale departemente het altesaam 204 boorgate toegerus. Dit was 23 in die Noordwes, sewe in Mpumalanga, 60 in Limpopo, 35 in die Vrystaat, 20 in Gauteng en 59 in KwaZulu-Natal.
Die koste vir die toerus van die boorgate het net meer as R51,4 miljoen beloop en is deur die omvattende steunprogram vir die landbou (Casp), die voorkoming van rampbestuur (PMDR) en die droogteskema befonds. Altesaam 175 boorgate is tot op hede opgeknap.