Afrika suid van die Sahara het die potensiaal om 2% van die wêreld se sojaboonprodukte te produseer, sê TechnoServe.
Dié maatskappy en Agland Investment Services het die afgelope vier maande ’n opname in sewe Suider-Afrikaanse lande gedoen om te bepaal waarheen die bedryf in die streek kan beweeg. Hul bevindinge is Woensdag (2 Maart) in ’n bespreking in Johannesburg bekend gemaak.
Die betrokke lande sluit Suid-Afrika, Zambië, Mosambiek, Angola, Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Malawi in.
Mnr. Andrew Eder, die bemarking- en kommunikasiebestuurder van die maatskappy, sê tans produseer die streek minder as ’n half persent van die wêreld se sojaboon-oes.
Aangesien die klimaat in groot dele van dié streek ooreenstem met dié van Latyns-Amerika, wat 60% van die wêreld se sojabone produseer, is verhoogde produksie moontlik.
Drie fases
TechoServe stel ’n driefaseproses voor om Suider-Afrika se afhanklikheid van sojabooninvoer te verminder. Die proses sal fokus op die verbetering van kleinboere se oeste en marktoegang, die verbetering van beleid om handel te bevorder en die bevordering van sojaproduksie in die streek.
Dié proses kan lei tot ’n groei in inkomste van $217 miljoen teen 2020 in die streek. Meer as 400 000 boere se inkomste kan hiervolgens van $30 tot $600 per jaar groei.
Winsgewendheid
“Ons weet dat volhoubare winsgewendheid een van die groot probleme is wanneer boere besluit om te plant, maar een van ons voorstelle is besproeiing, soos wat dit tans deur baie boere in Zambië gedoen word”, sê Eder.
Die opname is gedoen as deel van ’n vierjaarlange-program om ’n mededingende sojaboonbedryf in die streek te ontwikkel, met die aanvanklike fokus op Zambië en Mosambiek.
3 Maart 2011