
Die opbrengs van sojabone in Suid-Afrika is te laag en stappe word gedoen om dit te verhoog, het mnr. Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), op 'n soja-boeredag op Brits gesê.
Die plaaslike gemiddelde opbrengs oor drie seisoene is slegs 1,60 ton/ha, oor vyf seisoene is dit 1,70 ton/ha en oor tien seisoene 1,65 ton/ha. “Dit is nie goed genoeg nie en dit is hoekom met ’n projek begin is om die opbrengs te verhoog deur wisselbou, die gebruik van die beste tegnologie en oor te skakel na bewaringsboerdery,” het hy gesê.
'n Aanleg om biobrandstof van sojabone te vervaardig, kan by die nuwe oliepers op Standerton gevoeg word sodra die Regering sy planne oor alternatiewe brandstowwe afgehandel het.
Mnr. Adriaan (Tollie) Schoeman van die internasionale Noble-groep sê die aanleg waar sojabone verwerk word, is op Standerton voltooi. Daarvoor het hulle ’n uitgediende melkfabriek gekoop en dit aangepas. Die aanleg het die vermoë om 1 500 ton sojabone per dag te verwerk en dit kan tot 2 000 ton verhoog word. Die verwerkte produkte bestaan uit 72% meel, 19% olie en 6% voerkorrels.
Die groep is onder die 100 grootste maatskappye ter wêreld en het belange in 38 lande. Die omset verlede jaar was sowat ’n R1 000 miljard. Hulle is in die hele ketting betrokke, vanaf die verskaffing van finansiering aan boere tot die pers en bemarking van sojabone. In Suid-Afrika is hulle self ook betrokke in vennootskappe met boere wat gewasse op 42 000 ha plant. Schoeman sê die aanleg kan uitgebrei word om ook ’n klein aanleg in te sluit vir die vervaardiging van biobrandstof. Só ’n uitbreiding hang egter af van die Regering se planne oor alternatiewe brandstowwe.