
’n Tienpuntplan en beplanning vir ’n nuwe boek teen plaasaanvalle is in Pretoria deur Solidariteit bekend gestel.
Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof, sê die veldtog is begin in reaksie op die nuwe vlaag plaasaanvalle wat die afgelope paar maande voorkom.
Hy sê Solidariteit soek met dié veldtog ’n praktiese oplossing vir die probleem van plaasaanvalle wat nie daadwerklik deur die Regering aangepak word nie. “En ons sal met die veldtog voortgaan tot die Regering aan ons eise gehoor gee.”
Voorrangmisdaad
Een van die belangrikste eise en stappe van die plan is dat plaasaanvalle en -moorde as ’n voorrangmisdaad verklaar moet word. Verder wil die vakbond sien dat spesialiseenhede wat hulle op dié misdade sal toespits, in die Polisie ingestel word.
Hermann sê die veldtog is ’n aanklag teen die Polisie en die staat wat sloer om oplossings te vind en in werking te stel. “Ons eise is eenvoudig en die inwerkinstelling van ons eise kan ’n regstreekse invloed op die hantering van plaasaanvalle in Suid-Afrika hê. Dit is onmoontlik om misdaad wortel en tak uit te roei, maar ons moet minstens na maniere kyk om plaasaanvalle aan te pak.”
Vertel jou storie
Intussen is die eerste stap van dié plan, ’n boeke-monument, by die vakbond se kantoor gegee. Dié boek volg op Treurgrond, ’n boek wat verlede jaar deur die vakbond en die TLU SA bekend gestel is. Hermann sê hy is deur baie mense genader wat sê hul gevalle of gevalle van familielede of vriende is nie in dié boek gelys nie.
“Die omvang van plaasaanvalle is baie groter as wat ons besef, omdat ál die statistiek nie aangeteken word nie. Met die Vertel jou storie-projek wil ons poog om ’n omvangryker beeld van gebeure vas te vang,” sê Hermann. “En ons sal seker maak dat almal gelys word, insluitend plaaswerkers en plaasbewoners wat geraak word.”
Verder wil die vakbond bewusmaking op ’n nasionale en internasionale vlak, maar ook in gemeenskappe wat baie geraak word, bevorder.
“Almal van ons ken iemand wat al aangeval is, so dis baie na aan ons, dis nie net iets wat die landbougemeenskap raak nie, dit beïnvloed ons almal,” vertel Hermann. Hy sê hulle het al en sal ook met landbou-organisasies oor die projek skakel. ’n Grootskaalse petisie word ook beoog.
“Ons uitkoms is ’n politieke besluit om die probleem aan te pak. Ek wil dit vir julle stel, dat die Regering uiters onverskillig is oor plaasmoorde. Ek wil dit selfs sterker stel, hulle is ongevoelig daaroor.”
Hoe?
Me. Ilze Nieuwoudt, woordvoerder vir Kraal Uitgewers wat die projek sal behartig, sê hulle moedig almal wat deur plaasaanvalle geraak is, om hulle voor 20 Mei 2012 te kontak om hul storie mee te deel.
Hulle kan in kontak kom deur die aanlynvorm op die webtuiste www.treurgrond.co.za in te vul. Hulle kan ook “plaas” na 34388 sms waarna hulle teruggebel sal word. Verder kan e-pos of ’n faks gestuur word. Die e-pos adres is treurgrond@solidariteit.co.za en die faksnommer is 086 593 2882. Hulle kan die uitgewer ook by tel. 012 644 4329 bel.
’n Video wat meer inligting oor plaasaanvalle en die projek gee, is op www.treurgrond.co.za beskikbaar. Hou Landbouweekblad dop vir meer inligting oor die tienpuntplan.
25 April 2012