Solidariteit wil stappe neem teen die Landbounavorsingsraad (LNR) weens ‘n dispuut rondom loonverhogings met die instelling.
Luidens ‘n verklaring sloer die semistaatsinstelling na bewering al vir maande om agterstallige salarisverhogings aan voormalige LNR-personeel uit te betaal.
“Loonverhogings moes reeds teen 1 April 2010 geïmplementeer gewees het, maar weens ? vertraging in onderhandelinge is die loonooreenkoms eers op 2 September bereik.
Hoewel die verhoging wel terugwerkend aan werknemers uitbetaal is, is dieselfde nie gedoen vir personeel wat in dié vensterperiode die LNR verlaat het nie,” verduidelik me. Ilze Nieuwoudt, vakbond-woordvoerder.
Departement van Arbeid
Die vakbond sê hy het al op verskeie geleenthede die LNR gekontak en geëis dat die geld aan die werknemers wat daarvoor klassifiseer, uitbetaal moet word.
“Die LNR meen dat die betrokke voormalige werknemers hulle na hul naaste kantoor van die Departement van Arbeid moet wend, sodat die probleem deur dié kanaal aangepak kan word.
"Solidariteit beklemtoon egter dat die LNR oor al die besonderhede en data van die betrokke persone beskik en die probleem eenvoudig self moet oplos,” lui die verklaring.
‘n Ooreenkoms van loonverhogings op ‘n glyskaal van tussen 6% en 8,7%, is aangegaan.
Probleme by Bell Equipment
Intussen beskuldig die vakbond Bell Equipment, een van die grootste vervaardigers van landbou-, mynbou- en konstruksiemasjinerie, daarvan dat hy sy werknemers vervreem deur nie verhogings aan hulle toe te staan nie.
Dít ondanks die feit dat bonusse glo wel aan die maatskappy se bestuur uitbetaal is. Luidens ‘n verklaring het die maatskappy, weens die resessie, die afgelope twee jaar aansoek gedoen vir kwytskelding van salarisverhogings.
Werknemers se salarisse is dus in 2008 laas aangepas, en die meeste het al aangedui dat hulle eenvoudig nie by die afgelope twee jaar se stygende lewenskoste kan byhou nie.
Die vakbond hoop om binnekort met die maatskappy in gesprek te tree.
26 Januarie 2011