’n “Boeke-monument” word beoog om die stories van slagoffers van plaasaanvalle in die land te vertel, sê Solidariteit.
Luidens ’n mediaverklaring vorm dié boek deel van ’n projek wat die vakbond loods om die probleem van plaasmoorde te probeer aanpak.
Die vakbond sê plaasmoorde het ’n krisis bereik, en die probleem moet onmiddellik aandag kry. Volgens Solidariteit is hy bewus van 16 moorde of aanvalle wat sedert begin vanjaar op plase en op kleinhoewes landwyd voorgekom het.
In die laaste twee weke is vier gevalle van moorde op plase en een aanval op ’n boer by die Polisie aangemeld.
Die Projek
Die vakbond se uitgewersmaatskappy, Kraal Uitgewers, wil binnekort met die “boeke-monument”-projek begin. Slagoffers van plaasaanvalle sal die kans gegun word om hul stories as deel van die projek te vertel.
Solidariteit wil glo ook groter druk op die SA Polisiediens plaas om dié misdaad as ’n voorrangmisdaad geklassifiseer te kry. Die projek volg op die bekendstelling van die boek Treurgrond, waarin sowat 2 600 plaasmoorde en -aanvalle van 1990 tot 2010 gelys word.
“Vir solank as wat plaasaanvalle nie as ? aparte soort misdaad beskou en geklassifiseer word nie, sal daar eenvoudig nie werklik ernstig opgetree kan word om dit hok te slaan nie.
"Dit is waar dat hierdie tipe misdaad moeilik is om presies te klassifiseer, maar daar kan nie ontken word dat aanvalle van dié aard verskil van moorde en aanvalle wat in stedelike gebiede plaasvind nie,” aldus dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.
13 April 2012