
Die verwagte oesgrootte van die vernaamste somergewasse is weer opwaarts aangepas.
Die jongste skatting van die nasionale oesskattingskomitee (NOK) toon dat die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes nou 14,7 miljoen ton is, wat 1% meer is as die vorige skatting, maar steeds 10% kleiner as verlede jaar se oes. Die produksieskatting van sojabone is verhoog met 3,5% tot 1,9 miljoen ton en die skatting vir sonneblomsaad is 959 000 ton, wat 5% meer is as die vorige skatting.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê in sy reaksie op die skatting al is die mielie-oes heelwat laer as verlede jaar, is dit steeds ’n goeie oes wat aansienlik meer is as die tienjaar-gemiddelde van 12,8 miljoen ton. Dit is ook aansienlik meer as die jaarlikse verbruik van 11,8 miljoen ton.
“Die afname teenoor verlede jaar is hoofsaaklik weens ’n afname in aanplantings en laer opbrengste wat in sommige gebiede verwag word. Suid-Afrika sal egter ’n netto uitvoerder bly in die 2022-’23-bemarkingsjaar wat in Mei begin.”
Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,6 t/ha is. Sowat 7,6 miljoen ton is witmielies en 7,1 miljoen ton is geelmielies. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 82% van die 2022-oes produseer.
Die sojaboonoes sal na verwagting die tweede grootste in die geskiedenis wees: 1% kleiner as verlede jaar. Dit word toegeskryf aan die uitbreiding van aanplantings en beter opbrengste in sommige gebiede. Sihlobo sê die sonneblomoes sal waarskynlik ook die tweede grootste in die geskiedenis wees. Dit word toegeskryf aan groter aanplantings en beter opbrengste op plekke.
“Die verbetering in die sonneblomsaadoes en ook wat ander groente-olies betref, kom op ’n baie welkome tyd waar daar kommer oor die voorraad op die wêreldmark in die komende maande is. Die Russiese inval het Oekraïne se uitvoer en landboubedrywighede verwoes en beperkinge geplaas op die uitvoer van sonneblomolie. Daarby was daar ook ander probleme op die oliemark met swak oeste van palmolie in Indonesië. Suid-Afrika se groter oes kan sy afhanklikheid van invoer bietjie verminder.”
Wat ander somergewasse betref, het die NOK die verwagte grondbone-oes op 74 250 ton geraam, wat 7% meer is as die vorige skatting van 69 200 ton met ’n opbrengs van 1,7 t/ha. Die produksieskatting van sorghum is 137 220 ton, wat 6% minder is as die vorige skatting en in die geval van droëbone is die produksieskatting dieselfde gehou op 59 690 ton.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê dit is opmerklik dat dit net sorghum se skatting is wat laer is as verlede maand. Hy sê die meeste sorghum word deesdae in Limpopo geplant. “Die reën het daar weggebly en dit kan nou in die tweede skatting gesien word.”