
Die SA Weerdiens se amptelike statistieke skets ’n skokkende prentjie van hoe die hart van Suid-Afrika se somersaaigebied, veral die Vrystaat en Noordwes, sedert begin vanjaar toenemend verhit en verdor het.
Dié syfers kom van ’n uitgebreide reeks weerstasies die hele land oor.
Maandag 9 Februarie se hittegolf staan uit. Die warmste weerstasie op dié dag in die land was Bloemhof in Noordwes, waar die kwik tot 43,1% gestyg het. Op vier ander plekke het maksimum temperatuur-rekords gespat:
* Wepener: 35,8 grade Celsius
* Die aanliggende Knellpoortdam: 36,6 grade Celsius (dié rekord oortref die vorige van 36,3 grade Celsius wat op 4 Februarie 1992, midde in een van Suid-Afrika se ergste droogtes nog, by dié stasie aangeteken is).
* Ottosdal: 40,6 grade Celsius.
* Klerksdorp: 36,7 grade Celsius.
In die tien dae tot 11 Februarie, wat vroeër as ‘n kritieke tyd uitgewys is om somer-oeste te red, was neerslae tragies skraps of afwesig:
In die Vrystaat is net 5mm by Frankfort aangeteken. By al die ander weerstasies in dié provinsie is geen neerslae aangeteken nie.
* Die hoogste neerslag in Noordwes was 14 mm by die Pilanesberg-weerstasie.
* Die naashoogste in Noordwes was 13 mm elk by Vryburg en Hartebeespoortdam.
* By Rustenburg is 8 mm aangeteken, en by Buffelspoort 5 mm.
* By nie een van die ander Noordwes-weerstasies is meer as 1 mm gemeet nie, en by die meeste het dit nie ’n druppel gereën nie.
Januarie se maandtotale was oor ’n groot gebied ver onder die gemiddeld:
* Noordwes: Buffelspoort se reën vir die maand was 25% van die langtermyngemiddeld; Severn 20%, Vryburg 16%, Bloemfontein 26%, Balkfontein (by Bothaville) 45%.
* Vrystaat: Cornelia 15%, Koffiefontein 15%.
* Noord-Kaap: Barkly-Wes 0% (van die dorp se gemiddelde 57 mm), Daniëlskuil 32%, Groblershoop 21%, Hopetown 15%, Keimoes 27%, Kimberley 51%, Niekerkshoop 16%, Upington 50%.