
Sedert Eskom beurtkrag landwyd ingestel het, het dit ’n groot toeloop vir kragopwekkers, gasstowe en gasgeisers en sonkragstelsels to gevolg gehad.
Die aanvraag is só groot dat die meeste verskaffers in die Baai se voorraad uitverkoop is en dit eers teen Januarie weer beskikbaar sal wees.
Twee van die Baai se grootste verskaffers van kragopwekkers, Ellies en Adendorff Machinery Mart, het aan Landbouweekblad gesê ál hulle voorraad is reeds binne die eerste week in Desember uitverkoop. Die opwekkers wat meestal van China kom, sal eers teen die middel van Januarie weer beskikbaar wees. Dit is veral die 7,5kW petrol-kragopwekkers wat teen sowat R8 000 en ’n vrieskas, rekenaar, TV en ’n paar ligte tydens beurtkrag in stand kan hou, wat die gewildste is.
’n Woordvoerder van Fennell Hal, die grootste verskaffers van huishoudelike gas in die Oos-Kaap, sê daar was oor die naweek ’n reuse toeloop van mense by hulle depot om gasbottels te hervul. “Ander gewilde items is tweeplaatgasstowe en gaswaterverwarmers.”
Sy sê die meeste van hulle gasstofies en silinders is uitverkoop en met die vakansieseisoen op hande sal hulle eers volgende jaar weer voorrade kan aanvul. Twee kettingwinkels wat ook gasstowe verkoop vertel dieselfde storie.
Mnr. Hugo Gerber van Pieter Rademeyer Solar in Port Elizabeth wat in die verskaffing van sonpanele vir waterverwarming spesialiseer, sê hoewel hulle meer navrae as gewoonweg ontvang, baie verbruikers nie die geld het om, nadat die rabat van sowat R5 000 wat Eskom betaal, steeds sowat R13 000 vir ’n sonwaterverwarmingstelsel wat aan die huis se bestaande elektriese geyser gekoppel word op te dok nie.
“Die stelsel op die dakke van huise in die townships wat sowat R5 000 per eenheid kos, is nie so veelsydig nie aangesien dit basies net warm water verskaf en die druk ook te laag is om aan watermengers te koppel."
Me. Teresa Hoffman, mede-eienaar van Elnino Solar in Port Elizabeth en grootste verskaffer van songeisers en hittepompe vir huishoudelike en industriële gebruik, sê die jongste gonswoord is die sogenaamde foto-voltaïese stelsels (PV).
Hoffman sê hoewel die kapitale uitleg van ’n PV-stelsel nagenoeg R20 000 per kW beloop en huishouding tussen 3kW en 5kW benodig, die besparing wat daardeur bewerkstellig word teen die huidige kragtariewe binne 6 tot 7 jaar die koste sal delg. “Wanneer die sonenergie in batterye gestoor word, hoef beurtkrag nie gevrees te word ni. Dit sal genoeg krag lewer om vir ’n paar uur ’n rekenaar, TV, yskas en ’n paar ligte in die huis in stand te hou.
Volgens Hoffman kan ’n PV-stelsel die waarde van eiendom met tot R100 000 verhoog. Die meeste van die eienaars wat die stelsel reeds installeer bestee nie meer ’n rand aan energiekoste nie. Die berekening van die hoeveelheid krag wat ingevoer en weer onttrek word, word by wyse van ’n sogenaamde slim meter bepaal.
Foto-byskrif:
Een van die eerste huise in die Baai wat met 'n Photo Voltaic (PV) stelsel toegerus is. Die elektrisiteit wat die sonpanele opgewerk word, word bedags in die kragnetwerk van die munisipaliteit ingevoer en saans as die inwoners tuis is word krag weer uit die stelsel onttrek. 'n Sogenaamde slim meter word gebruik om te bepaal hoeveel krag in die stelsel ingevoer is en hoeveel weer onttrek is. Die Nelson Mandelabaai Metropool is een van die eerste munisipaliteite wat so 'n stelsel goedgekeur het.