
“Ons sal opkomende boere bly as ons nie die toegelaat word om die eiendom te koop wat ons van die staat huur nie.”
Landbouskrywers SA se 2013 wenner as Toetreder tot Kommersiële Boerdery van die Jaar, mnr. André Cloete, is een van boere wat ‘n suksesverhaal van die Regering se strategie vir die verkryging van grond (Plas) is, maar soos vele ander ontwyk die besitreg op sy huurgrond hom.
Hy huur die plaas, Klein Ezeljacht, buite Greyton, nou al sewe jaar van die staat. Hy boer met appels en steenvrugte, hawer op droëland en met ’n SA Vleismerino-kudde.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het onlangs gesê dat wetgewing die lig gaan sien waar titelaktes gegee sal word aan diegene wat grond deur die regering se program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD) gekry het.
Die LRAD-program is ‘n paar jaar gelede met die Plas-skema vervang. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het verlede jaar die beleid op die verhuring en afstanddoening van staatsgrond na die tafel gebring, waar voorgestel word dat boere eers hulself in kommersiële boere moet ontwikkel, voordat hulle grondeienaars kan word.
Volgens die beleid kan slegs medium- en grootskaalse kommersiële boere in aanmerking kom vir lang huurtermyne met die opsie om te koop. Cloete het gesê hy het reeds bewys dat self die boerdery van die grond af kon opbou tot in die kommersiële eenheid wat dit vandag is, en wil graag die plaas koop.
Hy meen die staat moet die plaas aanbied teen die oorspronklike koopprys, want hy het self die roerende bates en bedryfskapitaal bymekaar gekry.
* Een van die ander finaliste in die 2013 Toetreder tot Kommersiële Boerdery van die Jaar, mnr. Jannie Struis, wat net buite Hopetown op die dorpsmeent boer, ervaar dieselfde knelling. Struis huur tans 1 200 ha van die munisipaliteit, waarop hy met beeste boer. Hy sê sy huurtermyn verstryk in 2105, en hy weet nie of hy weer dié grond sal kan huur nie. Struis, ’n suksesvolle kommersiële beesboer, wil graag grond bykoop, maar kom telkens voor dooiemansdeur te staan in sy soeke om met die staat te praat. Hy wil graag grond koop. Landbou.com het die hulp van dr. Pieter Mulder, toe nog adjunk-minister van Landbou, ingeroep ná Struis se vergeefse pogings om met die Noord-Kaapse minister van landbou te gesels. Maar Mulder is nie meer in 'n posisie om hulp te kan verleen nie.
Struis het onlangs van sy kalwers verkoop wat ’n gemiddelde speengewig van 255 kg aangeteken het.