
Mnr. Rico Basson, Vinpro se uitvoerende hoof, het sy dankbaarheid uitgespreek oor mnr. Enoch Godongwana se eerste volwaardige begrotingsrede waarin die aangekondigde verhoging in aksynsbelasting op wyn in ooreenstemming met inflasie is.
Die sondetaks op ongefortifiseerde wyn styg met 17c per bottel van 750 ml, op gefortifiseerde wyn met 33c per bottel en op vonkelwyn met 76c per bottel.
Aksynsbelasting vir alkoholprodukte styg oor die algemeen met 4,5% tot 6,5%. Spiritualieë sal met R4,83 per bottel meer belas word, en sider en alkoholiese vrugtedrankies met 11c per 340 ml-botteltjie.
Vinpro en sy bedryfsvennote het sedert verlede jaar seker gemaak die nasionale tesourie verstaan die benarde posisie waarin die wynbedryf hom bevind. Hulle het selfs versoek dat ’n spesiale toegewing vir die wynbedryf gemaak word aangesien dié bedryf so hard getref is deur covid-19-inperkings en boonop reeds aan die aksynsbelastingteikenkoers voldoen.
“Anders as die breër landbousektor wat die afgelope jaar relatief goed gevaar het weens gunstige klimaatstoestande en die afwesigheid van covid-19-beperkings, word die wynbedryf met sy unieke struikelblokke gekonfronteer deur ’n ekonomiese afswaai, die wesenlike effek van handelsbeperkings sedert die begin van die pandemie en ’n eksponensiële styging in insetkoste terwyl wynpryse laag bly,” sê Basson.
Volgens hom word verbruikers nie noodwendig deur aksynverhogings geraak nie, omdat wynkelders en wyndruifprodusente dit dikwels absorbeer.
Onwettige handelaars wen
“Ons het ook gesien dat ’n verhoging in aksyns onwettige handel, wat reeds 22% van die binnelandse drankmark uitmaak, eerder aanwakker as om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat nie wyn op ’n verantwoordelike manier verbruik nie,” sê Basson.
Die res van die drankbedryf was “louwarm” oor Godongwana se aksynsaankondiging, sê die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkeienaarsvereniging (Salba) in ’n verklaring. Mnr. Kurt Moore, Salba se uitvoerende hoof, was verras deur die besluit om spiritualieë met 2% meer as inflasie te belas.
“Spiritualieë word reeds swaar belas en onwettige handel kom die meeste voor in dié kategorie. Die besluit skep dus meer ruimte vir onwettige handelaars, wat min of geen aksynsbelasting betaal nie, om wins te maak ten koste van die wettige bedryf.”
Hy sê verhogings wat meer is as inflasie, dra by daartoe dat wettige alkoholprodukte nou gemiddeld 43% duurder is as onwettige alternatiewe.