
Die afname in die getalle van die South Devon-beesras wêreldwyd, is aan ekonomiese redes te wyte waar baie beesboere glo dat daar meer geld te maak is uit kruisteling. “Dit gebeur oral in die wêreld dat waar ’n familie vir twee geslagte lank met die suiwer beeste geboer het, die derde geslag op die plaas dan ’n ander koers wil inslaan”, sê mnr. Brian Thomson, voorsitter van die internasionale federasie van South Devon-telers. Hy was een van die sprekers op die wêreldkongres van die Internasionale Federasie vir South Devon-telers in Port Elizabeth.
Thomson, wat na drie jaar as voorsitter uitgetree het, sê ondanks die skerp afname in die hoeveelheid South Devon-stoettelers in die wêreld, het dié wat oorgebly het ’n hegte gemeenskap gevorm met die doel om die voortreflike eienskappe van die ras meer te propageer. “Die South Devon leen hom nie net uitstekend tot kruisteling nie, maar is ook bekend vir hul goeie temperament, vrugbaarheid, vleisgehalte en baie melk om kalwers met gemak groot te maak.”
In teenstelling met die Verenigde State van Amerika en Kanada, waar South Devon-telers beeste met ’n groot raam verkies, meen Thomson dat Suid-Afrikaanse telers die regte pad gekies het om op mediumraam-diere te fokus waarmee daar veral ekstensief geboer kan word.
Goeie toekoms
Mnr. Charl Hunlun, ’n rasraadgewer van Bloemfontein, meen die gewildheid van die ras waarmee daar reeds 100 jaar in Suid-Afrika geboer word, het gekwyn omdat daar by baie boere ’n persepsie is dat die diere rankerig is. “Hoewel dit in die 1960’s en ‘70’s die geval kon wees, is dit lankal nie meer so nie. Daar is min ander beesrasse in die land wat die South Devon klop as dit by speensyfers en kalfpersentasie kom.”
Hunlun meen die gety is besig om te draai aangesien daar verlede jaar op produksieveilings te min bulle was om in kommersiële beesboere se behoefte te voorsien. “Die eerste kruising lewer ’n uitstaande dier, ongeag waarmee dit ook al gekruis is. Boere sal dit dadelik in hulle sak voel met die swaarder speenkalwers wat hulle gaan aankry.”