
Me. Jo-Anne Otto, woordvoerder by die munisipaliteit, sê die brand het glo as gevolg van weerlig ontstaan en is gistermiddag aangemeld. Hoewel daar min strukture in die area is, kon spanne vyf klein gastehuise teen die brand beskerm. Die brandlyn is tans sowat 12 km lank en strek oor twee plase.
Die twee grondspanne met twee groot waterdraers en vier toegeruste 4x4’s het deur die nag probeer om die vuur onder beheer te bring. Daar is tans 34 brandbestryders. Twee bykomende grondspanne sal vanoggend aanmeld sodat 54 brandbestryders die brand sal bestry.
“Daar word voorspel dat die temperatuur vandag van 35 °C tot 37 °C sal wees, wat vir baie ongemaklike brandbestrydingstoestande sal sorg,” sê Otto.
- Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het om 11:45 bevestig dat die brand suksesvol onder bedwang gebring is. Geen beserings of skade aan infrastruktuur is opgedoen nie. Een grondspan en ’n voertuig sal op die toneel bly om voort te gaan met monitering en opruimingsaktiwiteite.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.