Mense wat bereid is om emosionele kommentaar oor die speenkalf- en/of voerkraalbedryf te lewer as hulle nie die ingewikkeldhede van dié bedryf mooi verstaan nie, verbaas hom, sê mnr. Dave Ford, uitvoerende direkteur van die SA Voerkraalvereniging (SAVV).
Hy sê vraag en aanbod is die enigste prysbepalende kriteria in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf en alle rolspelers moet dit besef.
Ford het reageer op ’n blog wat op Landbou.com verskyn het, waarin geskryf is dat vleispryse aan boere deur agt nie-openbare maatskappye bepaal word.
Volgens Speenkalf se blog vind massiewe vertikale integrasie in die veebedryf plaas, met die groot agt vleismaatskappye – wat elkeen ’n abattoir het en wat deel is van die Rooivleis-abbattoirvereniging. Hulle het glo ook vleisverwerkingsaanlegte en verskaf snitte aan kettingwinkels.
‘Bel die groottes se aankopers’
“So, aanvaar dit nou maar, dié dinge word deur agt nie-openbare maatskappye beheer. Alle mense wat speenkalwers wil koop, ek praat van die ander 63, bel die groottes se aankopers om te hoor wat hulle betaal... daar het ons 'n prys.. nie altyd vraag en aanbod nie,” lui die blog.
Nóg ’n blog oor speenkalfpryse het op Landbou.com verskyn: Dit en dat oor speenkalfpryse.
Ford sê die uitvoerende komitee van die Voerkraalvereniging het net so min die dalende speenkalfpryse gemanipuleer as wat hulle die styging tot R21,50 per kg gemanipuleer het.
Hy het in ’n brief aan Landbou.com spesifiek tien punte uitgelig in ’n poging om meer lig op die situasie rondom pryse te werp.
Styging in speenkalfpryse
Die eerste van dié punte fokus op lamsvleispryse wat van die middel van 2011 af onrealisties hoog gestyg het, met mediaberigte wat berig het dat boere R70 per kg teen Kersfees kon verwag.
“Dit het voorspelbaar nie gerealiseer nie en teen ’n produsenteprys van R57 per kg vir ’n karkas, het die verbruiker begin wegbeweeg na ander vleissoort-opsies met ’n gepaardgaande groot verlies in markaandeel.”
Terselfdertyd sê Ford, het die vraag na beesvleis onrealisties begin styg, wat gelei het tot ’n styging in speenkalfpryse en die pryse van teeldiere. “Die voerkrale kon byna nie voorbly in die vraag na graangevoerde beesvleis nie, en die speenkalfprys het nóg verder gestyg as gevolg van die verhoogde vraag.”
Ford sê ná dié gebeure het staangetalle in voerkrale tot ’n rekordgetal van 500 000 op enige gegewe tyd gestyg. Dit het druk op die voorraad “hominy chop” -voer (die afvalproduk van die witmielie-maalbedryf) geplaas. Die prys van dié produk was toe R1200 per ton hoër as die prys gedurende dieselfde tydperk in 2010.
Volgens Ford het die individue op die agtergrond en spekulante “ingeklim” en tot R26 per kg betaal vir ligte kalwers in ’n seisoen waar droë toestande in groot dele voorgekom het.
Dié toestande het tot verswakte weidingstoestande en swak groei gelei. “Die beesvleisprys vir A-klas het by R35 per kg gedurende die feestyd gedraai en die gemiddelde speenkalfprys het in daardie tydperk tot R21,50 per kg geklim.”
Karkasmassa het gestyg
Ford sê met die verhoogde graanprys moes voerkrale langer voer. Die verlaagde voermarge wat voorgekom het asook die gemiddelde aantal staandae, wat ná 140 dae gestyg het – met ’n gepaardgaande hoër totale karkasmassa – het tot ’n moontlike verdere verlaging in markpryse gelei.
Die totale karkasmassa het met sowat 30kg karkas per kop of 3000 ton per maand gestyg.
Ná die afloop van die feestyd het die verbruiker weens ekonomiese druk minder aangekoop, terwyl ’n ooraanbod van beesvleis op die mark was. Ford sê die ooraanbod is veroorsaak deur getalle en bykomende karkasmassa per eenheid. Dié faktore het gelei tot groot verliese in die mark.
Wat voer betref sê Ford die SAVV meen die Oesskattingskomitee is met ’n minimum van 1 miljoen ton té optimisties” oor die oes wat tans op die lande is. Hy sê hulle verwag dat ’n meer akkurate beraming verdere opwaartse druk op die mielieprys gaan plaas, en dat dít die voerkraal marge verder gaan laat afneem.
“Die speenkalfprys maak 65% en voerkoste 28% uit van die totale voerkraalkoste om die karkas finaal aan die haak te kry. Die speenkalfpryse sal onder druk bly gedurende die speentyd, terwyl voerpryse ’n stygende neiging toon,” aldus Ford.
18 April 2012