Uitstallers en besoekers aan die Nampo-Oesdag buite Bothaville op die dag van die munisipale verkiesing het nog net tot vanmiddag 17:00 tyd om aansoek te doen om ’n spesiale stem uit te bring.
Enige lid van die publiek wat nie op stemdag (18 Mei) by sy eie stemlokaal kan stem nie, kan aansoek doen om ’n spesiale stem twee dae vroeër, op 16 Mei, uit te bring.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wys egter daarop dat hierdie aansoekers net by hul eie stemlokale in die stemdistrikte waar hulle geregistreer is, sal kan stem.
Die spesiale stemme kan tussen 08:00 en 17:00 op Maandag 16 Mei uitgebring word. Kiesers wat gestremd is en nie self by die stemlokale kan uitkom nie, sal deur personeel van die OVK besoek word, maar hulle moet dan binne hul stemdistrikte wees waarin hulle geregistreer is.
Om aansoek te doen om ’n spesiale stem, moet die OVK se webtuiste by www.elections.org.za besoek en die aansoekvorm (aanhangsel nr. 25) afgelaai word. Die aansoekvorm moet voor 17:00 vanmiddag persoonlik, óf deur iemand namens jou, by die toepaslike munisipale verkiesingskantoor ingedien word, waarna skriftelike goedkeuring verskaf sal word.
Daardie dokument moet as bewys gehou word en saam met die kieser se identiteitsboekie na die stemlokaal geneem word.
Graan SA moedig almal aan wat op 18 Mei op die Oesdag is om die geleentheid om ’n spesiale stem uit te bring, te benut.
Stembusse sal op 18 Mei vanaf 07:00 tot 19:00 oop wees. Vir enige navrae kan die OVK tolvry by tel. 0800 11 8000 geskakel word.
3 Mei 2011