Die uitvoermark vir graan is daar, maar die nodige spoorwegdiens om Suid-Afrika se oorskot-mielies uit te voer, skiet ver tekort. Dié frustrasie word ’n al hoe groter probleem, sê kenners.
In Durban se hawe, van waar Suid-Afrika se graan hoofsaaklik uitgevoer word, kan sowat 10 000 ton mielies per dag afgelaai word as dit vanaf spoorwegtrokke is omdat die hawegerief spesifiek vir spoorvervoer ingerig is.
Omdat soveel graan egter deesdae per pad vervoer moet word, staan die vragmotors vol mielies in lang rye in dié stad se strate terwyl hulle wag om hul vrag af te laai. Juis omdat die hawe met die oog op spoorvervoer ingerig is, is daar nie genoeg parkeerplek vir al die vragmotors nie.
Bottelnek
Mnr. Johan Steyn, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadehandelaarsvereniging (Sacota), sê ’n gebrekkige spoorvervoerdiens is die groot bottelnek wat veroorsaak dat Suid-Afrika nie nou die groeiende oorsese markgeleenthede behoorlik kan benut nie.
“Die markte is daar, maar weens die beperkte infrastruktuur kry ons dit eenvoudig nie reg om deurlopend meer as 150 000 ton per maand uit te voer nie.” Sowat een en ’n half vragmotor is nodig om net een treintrok se mielies te vervoer.
In Durban word op sommige dae meer as 300 vragmotors se vrag afgelaai, maar die gemiddeld is glo sowat 150 vragmotors per dag. Kenners raam die padvervoer van graan na die hawens het die afgelope paar jaar van minder as 10% tot sowat 70% toegeneem − bloot omdat spoorvervoer nie beskikbaar is nie.
Navrae deur Landbouweekblad het getoon dat uitvoergeriewe vir sowat 470 000 ton mielies tot einde April − die einde van die bemarkingsjaar vir mielies − in die hawens bespreek is. Dit sluit die Oos-Londense hawe in wat pas weer vir graanuitvoer geopen is.
As sowat 90% daarvan realiseer, beteken dit ’n toevoeging van sowat 400 000 ton tot die jaar se mielie-uitvoer. Teen verlede week was die mielie-uitvoer tot dusver vanjaar ’n bietjie meer as 1,5 miljoen ton.
Nuwe uitvoermarkte
Suid-Afrika se heersende totale uitvoerkapasiteit deur die hawens − as alles glad en sonder bottelnekke sou verloop − word deur bedryfskenners op sowat 2,4 miljoen ton geraam. Intussen werk me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, en haar departement kliphard agter die skerms om nuwe uitvoermarkte vir Suid-Afrika se oorskot-mielies te vind.
Dit kom te midde van ’n toename in uitvoer en ’n skerp styging in pryse. Joemat-Pettersson het op Agri SA se konferensie in Somerset-Wes gesê vooruitsigte om na van die Bric-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China) uit te voer, is goed. Suid-Afrika het op uitnodiging deel van dié groep geword wat die wêreld se snelgroeiendste ontluikende ekonomieë insluit.
9 Maart 2011