
Springhaasrotte slaan vanjaar in die Noord-Vrystaat op jong somergesaaides toe.
Dr. Gerhard Verdoorn, plaagbeheerkundige, sê hy het berigte ontvang van ’n “ontploffing” van dié plaag op lande wat pas geplant is tussen Kroonstad en Ventersburg.
Verlede jaar is ’n beraamde 55 000 ha se aanplantings in die somersaaigebiede deur dié knaagdiere, ook bekend as nagmuise, verwoes. Toe moes boere in die Noordwes-Vrystaat, veral die distrikte Hoopstad en Wesselsbron, waar die plaag voorheen onbekend was, maklik van 200 tot 300 ha oorplant.
Verdoorn sê hy het vanjaar ook berigte ontvang van boere wat hul saad met die hoogs giftige sistemiese insekdoder karbofuraan behandel in ’n poging om springhaasrotte hok te slaan. Hy waarsku dat dit uiters onverantwoordelik, gevaarlik en onwettig is, en dat sulke boere aangekla sal word as dit op die lappe sou kom.
Die rotte vreet sade wat ontkiem het. Dié ontkiemende sade gee ’n reuk in die grond af, wat die diere lok.
Die enigste doeltreffende tyd om hulle te bestry, is dus in die winter, vóórdat weer geplant word. ’n Geïntegreerde beheerstelsel is nodig, waarin tydsberekening deurslaggewend is en waarin alle moontlike beheermetodes ingespan word. Verdoorn benadruk dat bestryging in die tyd wanneer die skade aangerig en opgemerk word, ’n mors van tyd, moeite en geld is.
Die kolonies kan net doeltreffend beheer word wanneer die diere op hul kwesbaarste is: In die maande wanneer die lande rus; dus in die winter vir die somergraangebiede en vir die wintergraanstreke in die somer.
Verdoorn stel die volgende strategie voor, wat 'n boer kan begin volg sodra daar nie graan op die lande is nie:
* Begin beheer in dié dele met die hoogste springhaasrot-dighteid, en beweeg van daar na dié met laer digthede.
* Beheermaatreëls moet intensief wees om doeltreffend te wees.
* Begin eers met meganiese valstrikke en nes-vernietiging; volg dan met die vestiging en bevordering van uile en ander roofvoëls, en gebruik gif as ‘n laaste uitweg.
Die Landbounavorsingsraad het die afgelope jaar ’n wetenskaplike ondersoek na die doeltreffende bekamping van springhaasrotte begin.
* Kontak dr. Frikkie Kirsten van die LNR se Instituut vir Plantbeskerming in Pretoria by tel. 012 808 8217 of kirstenf@arc.agric.za met navrae. Verdoorn kan by 082 446 8946 gekontak word.
** Lees dr. Gerhard Verdoorn se beheerplan vir nagmuise in die aanhangsel hieronder.