
Swerms bruinsprinkane beweeg tans oor paaie in die Karoo en kan toenemend ’n padveiligheidskrisis in die gebied veroorsaak, sê dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA. Hoewel duisende hektaar in die Karoo met sprinkane bedek is, meen hy dat dit nog nie ’n groot gevaar vir boere in die streek inhou nie.
“Die Karoo is heeltemal grasgroen. Die sprinkane vreet wel, maar danksy die baie plantegroei vanweë die reën die afgelope paar maande gaan hulle nie die Karoo vernietig nie.”
Die moontlikheid bestaan egter dat die sprinkane na die gewasgebiede in die Vrystaat en Noordwes kan beweeg as die georganiseerde landbou nie sy vinger op die pols gaan hou nie, sê Verdoorn.
Hy is egter hoopvol dat dit voorkom kan word. Soos sake tans staan, is die sprinkane nie ’n groot gevaar vir die gewasgebiede nie.
Padgevaar: ’n Vetterige affêre
Omdat die swerms nie baie dig is nie, is hulle nie juis ’n gevaar op die hoofpaaie nie, maar wel op kleiner paaie, sê Verdoorn. Motoriste moet veral versigtig wees wanneer hulle deur swerms ry, “want hulle kan jou hele voorruit vol sprinkaansop maak en jou sig daaruit belemmer”.
Hy stel voor dat motoriste baie stadig deur swerms ry en hul ruite so hou moontlik met seepwater afwas. “As jy deur die swerm is, hou stil en was jou kar se venster met seepwater, want dit is ’n baie vetterige gemors wat die sprinkane op die ruite van die kar los.”
Verdoorn sê boere moet sprinkaanplae by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aanmeld, wat spuitspanne reg oor die Karoo het. Die publiek kan swerms by Verdoorn by 084 446 8946 aanmeld. Hy sal dit dan by die departement aanmeld.