Volgens hom is swerms die afgelope twee weke in die Hexriviervallei in die Wes-Kaap en naby Cradock in die Oos-Kaap en Hanover in die Noord-Kaap aangemeld. “Dit is nie groot swerms nie, maar kom wydverspreid voor. Dit bekommer my dat hulle lyk asof hulle gereed is om eiers te lê. Daar is ’n kans dat die Wes-Kaap meer van hierdie swerms sal sien namate hulle na water toe trek.”
Hy is reeds versoek om ’n sessie oor die bekamping van sprinkaanswerms in die Hexriviervallei aan te bied. Hy sê dit is bemoedigend dat die Wes-Kaapse regering reeds op gereedheidsbasis is. “Die Wes-Kaapse regering en boere se koppe is reg. Agri Oos-Kaap is ook besig met ’n inligtingsveldtog en sover ek weet is die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ook besig om homself voor te berei.”
Landbou.com het navraag by die departement oor sy gereedheidsvlak gedoen en wag vir terugvoering.