
Sprinkane broei tans uit “dat dit klap” in die sentrale Karoo en die Noord-Kaap en boere word steeds gemaan om swerms aan te meld.
Mnr. Hein Rust, hoof van rampbestuur by die Sentrale Karoo-distriksmunisipaliteit, sê die meeste sprinkane kom tans in die omgewing van die Nuweveld-berge en Leeufontein voor.
“’n Boer het onlangs vir my gesê dit is die ergste verskynsel van rooibaadjies wat hy nog by hom gehad het,” vertel Rust. Rooibaadjies is een van die name wat gebruik word vir sprinkane wat nog in die voetgangerstadium is.
Gras
Rust sê die sprinkane vreet tans veral die gras.
“Hulle vreet nie eintlik die bossies nie, maar dit het vroeër baie gereën en die veld is dus ruig. Dan vreet hulle natuurlik ook die tussen-in voeding wat boere vir hul diere aangeskaf het tot die eerste reëns.”
Die gebied het verlede jaar baie sprinkane gehad, wat beteken dat baie eiers in die grond gelê is en nou uitbroei. Rust sê die insekte broei ook teen ’n spoed in die omgewing van Loxton en Carnovon uit.
Spuit
Intussen moedig mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, boere aan om swerms aan te meld sodat dit gespuit kan word voordat die insekte die vlieërstadium bereik en slegs in die nag gespuit kan word.
“Ons weet van heelparty wat uitgebroei het, maar die spuitbeamptes gaan nie van alles weet as die boere dit nie aanmeld nie,” aldus Van Rensburg.
Rust sê hierdie jaar se sprinkane het die potensiaal om weer groot skade vir die boere noord van die sentrale Karoo, veral in die Vrystaat, te veroorsaak. Derhalwe is aanmelding vir tydige bespuiting baie nodig.
1 November 2011