
Massiewe uitbrekings van sprinkaanswerms, wat intussen die vlieërstadium bereik het, kom in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap voor. Daar word gevrees dat hulle na Noordwes en die Vrystaat kan versprei waar hulle grootskaalse skade aan gewasse kan aanrig.
Vosburg is een van die dorpe in die Noord-Kaap wat onder die uitbreking gebuk gaan. Mnr. Jan Vos sê vanjaar se uitbreking is soortgelyk aan dié van vorige jare. Hy vertel hoewel boere hul bes doen om die swerms te bekamp, is daar net soveel wat gedoen kan word.
“Verskillende metodes word gebruik om die swerms te bekamp, maar dit kan soms moeilik wees weens verskeie faktore. Die opbreek van groter swerms in kleiner groepe dra by tot boere se frustrasies weens ’n tekort aan mannekrag.”
Vos sê dat hy sy eie toerusting aangeskaf het om die sprinkane te bespuit. Aangesien die uitbreking so groot is, betaal hy ook sy werkers meer om met die bekamping te help. Volgens hom plaas regulasies ten opsigte van die bespuiting van sprinkane ’n beperking op die hoeveelheid sprinkane wat op ’n dag bespuit kan word.
“Die voetgangers is besig om in te beweeg, maar dis die vlieërs wat die probleem is aangesien hulle oor ’n groter area kan versprei. Die droogte in die omgewing het tot ’n toename in die sprinkaangetalle gelei. Die bossies wat natuurlik in daardie gedeelte van die land voorkom, is ongeveer 80% uitgewis, wat daartoe gelei het dat die sprinkane die oorblywende gras vernietig. Die weiding, gewasse en voerprodukte is tot niet en boere moet maar ’n ander plan maak.”
Vos monitor tans ’n swerm van ongeveer 12 km by 4 km wat deur Vosburg beweeg.
Mnr. Willem Symington, adjunkvoorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die swerms in die Noord-Kaap is kilometers lank en breed. Die lugsteun wat ingespan word om die swerms te bekamp, maak volgens hom ’n groot verskil aangesien groter areas in ’n korter tydperk bespuit kan word.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het kontrakteurs vir lugsteun aangestel, maar Agri Noord-Kaap finansier self deur skenkings bykomende lugsteun. “Ons soek nog geld, nie om die staat se werk oor te neem nie, maar omdat die nood so groot is. Ons moet almal doen wat ons kan om die ding te beheer. Ek het vanoggend verneem dat daar nou ook groot swerms by Calvinia uitgebreek het.”
Hy sê daar is uitstekende samewerking tussen die provinsiale landbou-unies wat dit moontlik maak dat lugsteun maklik oor verskillende provinsies ingespan kan word.
Hy sê dit is steeds ’n moontlik dat die swerms na Noordwes en die Vrystaat kan beweeg, maar daar word so hard as moontlik gewerk om die sprinkane tot die droë weidingsgebiede te beperk. Volgens hom is die grootste kwessie steeds laat betalings. Omdat die grondspanne nie betaal word nie, kan hulle binnekort besluit om eenvoudig op te hou spuit.
WES-KAAP
Groot swerms vlieërs kom in die Sentraal-Karoo in die Wes-Kaap voor. Die afgelope week het die hoeveelheid swerms by Laingsburg, Prins Albert, Merweville, Beaufort-Wes en Murraysburg aansienlik vermeerder.
Daar is veral kommer oor die groot swerms by Murraysburg. “Ten spyte van baie harde werk deur die sprinkaanspuiters, kan die grondspanne nie by alle swerms uitkom nie,” sê mnr. Daniël Minnaar, landbou-ekonoom by Agri Wes-Kaap.
“Agri Wes-Kaap het Agri SA daarom genader vir finansiering vir lugsteun. Agri Wes-Kaap is baie dankbaar vir alle donateurs wat, deur Agri SA, die steun moontlik maak. Agri Wes-Kaap is ook dankbaar dat die nasionale regering gehoor gegee het aan Agri SA en sy provinsiale affiliate se versoek om lugsteun.”
Me. Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA, sê daar is R144 000 uit dié organisasie se rampfonds vir lugsteun in die Wes-Kaap geskenk. Dit is genoeg vir twee dae se bespuiting.