
Die sprinkaanplaag wat dele van die Noord-Kaap teister, is glo redelik onder beheer.
Distriksprinkaanbeamptes is vol vertroue dat hulle die jongste uitbreking van voetgangers grootliks sal stuit voordat hulle die vlieërstadium bereik.
’n Amptenaar van die departement van landbou sê die bruinsprinkaan (Locustana pardalina) broei uit ná reën.
Die gebiede in en om Prieska en Groblershoop het die afgelope paar weke goeie reën gehad. Dit sluit in De Aar, Carnarvon, Britstown, Vosburg, Prieska en Vanwyksvlei waar reën rondom Kersfees aangeteken is.
“Wyfies kan tot 380 eiers elk lê. Die toestande moet egter gunstig wees. Dit moet reeds voor die reën gelê wees.” Die insekte broei dan in hul duisende uit en “vreet ’n pad deur boere se weiding en landerye”.
In ’n vorige uitbreking is vlieërswerms sowat twee weke voor Kersfees in die omgewing van Calvinia, Williston, Beaufort-Wes en Sutherland opgemerk.
Dié swerms is weens abnormale windtoestande na De Aar, Jacobsdal, Kimberley en Petrusburg versprei. Die bestryding van dié swerms in die Suidwes-Vrystaat en aangrensende deel van die Noord-Kaap is redelik onder beheer.
Gif is die antwoord
Studente en plaaslike landboukenners word deur die departement betaal om die sprinkane met gif te bestry. Die departement het bestrydingsentrums op De Aar en Upington.
“Die gif word net soggens vroeg of wanneer die sprinkane in swerms op die grond sit, gespuit. Sodoende word min gif op ander organismes en plante gespuit. In uiterste gevalle word die sprinkane met vliegtuie bespuit.
“Vanjaar het die sprinkane in die vakansietyd uitgebroei. Daar was min mense om dit aan te meld en te bespuit. Daarom sien motoriste meer sprinkane.”
Verskeie motoriste het swerms van duisende voetgangers op die N10-roete tussen Prieska en Marydale aangetref.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê benewens die sprinkaanplaag op Noord-Kaapse plase en dele van Namibië sukkel boere ook met muggies wat naby riviere en water voorkom. Die muggies teister diere en vee deur op vogtige, sagte plekke bloed te suig.
16 Januarie 2012