
In Maart, toe die sprinkaanuitbreking in die Sentraal- en oostelike Karoo op sy felste was, het boere gesê as die ryp in Mei begin, sal die sprinkane wyk.
Dit was meestal so.
Mnr. Schalk Visagie van Brandvlei sê egter hy het op 3 Julie ’n redelike groot swerm sprinkane op sy plaas bespuit. “Dit ís laat in die seisoen, maar dit is nie ongekend nie. Reënjare met redelike warm dae in ons herfs laat hulle maar nog uitbroei.”
Hy sê ook dit was nie die enigste swerm nie. “Ek hoor nog van los swerms in die omgewing.”
Ook dr. Joh Henschel, afgetrede bestuurder van Saeon (Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk) en lid van die navorsingswerkgroep oor sprinkane, sê die voorkoms van sprinkaanswerms in die winter is nie so ongewoon nie. “Swerms (vlieërs) is in 1994 en 2000 aangeteken en opgeneem in die Landbounavorsingsraad se datastel van 1989-2006. Daar is nie opgeteken dat voetgangers voorgekom het nie, want dit lyk nie of die eiers in die winter uitbroei nie.”
Henschel sê Visagie se waarneming is interessant omdat dit die eerste winter ná die begin van die uitbrekings in die Brandvlei-omgewing is, “met presies dieselfde toestande as die vorige twee rekords”.
Visagie sê hulle het in Junie goed reën gekry. “Die reën was die eerste paar dae donderweer en toe so deurmekaar met ’n koue front.”
Volgens hom rig die sprinkane skade aan, maar met die goeie reën het hulle darem meer veld as wat die sprinkane kan vreet.