
’n Helikopter sal hopelik teen die einde van die week beskikbaar wees om wydverspreide sprinkaanswerms in die Noord-Kaap te help bekamp, sê me. Janine Byleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap.
Dié organisasie het self ’n spuitvliegtuig bekom wat sedert gisteroggend hoofsaaklik swerms rondom Marydale bespuit. Sover is ’n gebied van 2 000 ha bespuit. Sprinkane word net soggens bespuit aangesien die gif dan op sy doeltreffendste is.
Die spuitvliegtuig is gefinansier deur skenkings wat aan Agri SA gemaak is. Byleveld sê verdere geldinsamelings word onderneem om die vliegtuig in die lug te hou. Volgens haar is ’n helikopter doeltreffender, maar dit kan tans nie bekostig word nie.
Sy sê die inspekteurs is tevrede dat die koers waarteen die sprinkane vrek danksy die spuitvliegtuig goed is. “Ons samel geld in sodat ons kan aanhou spuit. Ons benodig tans R270 000 om vir die res van die week te kan spuit.”
Die uitbreking van bruinsprinkaanswerms het reeds talle lewens op Noord-Kaapse paaie geëeis. Byleveld vertel dat ’n ongelukdie afgelope naweek die lewe van ’n man (32) en sy dogter (10) geëis het. Netwerk24 berig hulle was van Carnarvon na De Aar op pad. Die ongeluk het Saterdag kort voor 10:00 plaasgevind. Die man se seun (13) is gehospitaliseer en Sondag ontslaan.