
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moes die uitbreking van sprinkane in gedeeltes van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap verwag het en het nie die nodige voorbereidings gedoen om die uitbrekings te bestuur nie, sê mnr. Noko Masipa, DA-LP.
Volgens hom is sowat R495 miljoen vir biosekerheid aan die departement toegewys, maar is dié begroting nie ingespan om die uitbrekings te bekamp nie as gevolg van ’n gebrek aan kapasiteit en fokus in die departement.
Die DA het by me. Thoko Didiza, minister van die departement, navraag gedoen om vas te stel of die departement gereed is om die uitbrekings te bestuur. Masipa sê sy het gesê haar departement is wel gereed, maar intussen het dit duidelik geword dat die departement nie daartoe in staat is om struikelblokke met die opleiding van spuitspanne, die verskaffing van beskermende klere en ander logistieke probleme uit die weg te ruim nie.
Volgens hom het Didiza na aanleiding van ’n verdere navraag oor hoe die bekamping van die uitbreking vorder, gesê dat ’n helikopter ingespan sal word om lugsteun te bied. Die helikopter het nog nie geland nie, maar die departement het reeds R75 miljoen bestee.
Intussen het Agri SA ingespring en deur middel van skenkings gesorg vir ’n spuitvliegtuig teen ’n koste van R16 000 per uur. Volgens die organisasie se beramings is R320 000 nodig om net swerms in die Noord-Kaap te bekamp. Kosteberamings moet nog gedoen word vir die Wes- en Oos-Kaap, waar sprinkane ’n al groter probleem word.
“Die Noord-Kaap is in ’n kritieke stadium wat die uitbreking van sprinkaanswerms betref, en lugsteun is nou noodsaaklik. Die sprinkane moet in bedwang gebring word voor dit ’n gevaar vir die landbougemeenskap word.
“Die sprinkaanswerms plaas ’n verdere ekonomiese risiko op boere wat al jare se droogte moes verduur sonder genoegsame steun van die regering. Onlangse reënval het verligting gebring, maar dit is nie genoeg om die impak van die droogte te versag nie.
“Volgens die Voedsel-en-landbou-organisasie se beraming kan ’n sprinkaanswerm van ’n enkele vierkante kilometer sowat 80 miljoen volwasse sprinkane bevat, met die vermoë om dieselfde hoeveelheid voedsel te vreet as wat 35 000 mense sou eet. Sonder dringende ingryping kan dit tot groot werksverlies vir die landbousektor lei.”
Die DA versoek Didiza om onder meer satelliettegnologie in te span om die nodige inligting in te samel, lugsteun te gebruik om swerms in spesifieke gebiede te bekamp, finansiering aan Agri SA vir lugsteun te verskaf en ’n begroting op te stel wat sal verseker dat die bestryding van die swerms ononderbroke kan voortgaan.
Didiza word ook versoek om agterstallige betalings aan onder meer spuitspanne te maak