
Hoewel die meeste sprinkane van die onlangse uitbrekings vrek is, word insekte wat van Namibië kom, nog by Springbok, Mier en Noenieput bestry. Die seisoen eindig in Julie en begin weer einde September met die eerste lentereën wanneer sprinkane uitbroei.
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die oudmodiese betaalstelsel waarin baie inligting per hand verwerk word, behoort met ’n elektroniese stelsel vervang te word. “Die nasionale departement van landbou se huidige stelsel is ’n nagmerrie en vele distriksprinkaanbeamptes, voormanne en werkers is maande lank nie betaal nie weens die agterstand met die verwerking van dokumente.”
Me. Janine Byleveld, Agri Noord-Kaap se bedryfsbeampte vir ekonomie en natuurlike hulpbronne, sê ’n elektroniese stelsel waarin bewyse van ’n bankrekening en identiteit digitaal bewaar word, sal heelwat rompslomp uitskakel. Die uitbetalings moet liefs ook gedesentraliseer word.
“Tans moet die distriksprinkaanbeampte die verskillende dokumente vir homself, die voormanne en die werkers versamel en dit na die departement se kantoor op De Aar bring. Die handjie vol amptenare verwerk al die eise vir die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, en die Vrystaat. Die distriksprinkaanbeampte het net 12 dae tyd ná die einde van die maand om die dokumente in te dien. Elke individuele eis kan tot sewe dokumente vervat. Eise kan byvoorbeeld ure gewerk, brandstof, voertuigslytasie of persoonlike beskermingstoerusting behels.
“Die amptenare op De Aar moet van 500 tot 1 000 eise binne twee weke verwerk en dokumente verifieer. Daarna word die dokumente een keer per week padlangs na Pretoria na die nasionale tesourie gebring vir verdere verifiëring en verwerking waarna dit geoudit word. Eers daarna kan betalings in bankrekenings gedoen word. Intussen verloop tyd. Sommige dorpe het nie eens meer banktakke waar werkers rekeninge kan gaan oopmaak nie. Of dit duur so lank vir ’n betaling om deur te kom dat die bank die ongebruikte rekening sluit. Of die bewys van ’n bankrekening verval ná drie maande en die eis word verwerp.
“Die huidige stelsel ingevolge die wet is oudmodies en vereis baie papierwerk wat met die hand nagegaan word en kosbare tyd in beslag neem. In die Noord-Kaap is sowat 100 eise van 2021 en 300 eise vir 2022 nog uitstaande. In die Wes-Kaap en Oos-Kaap is daar plekke waar geen eise uitbetaal is nie. Die uitbetalings is sporadies. Mense is vir sommige maande se werk betaal, maar nie vir ander nie.”
Indien distriksprinkaanbeamptes foutiewe dokumente of ou formate gebruik, word die verwerking ook soms vertraag.
Jansen en Byleveld meen die departement moet oorskakel na ’n digitale betaalstelsel waar inligting elektronies geberg en nagegaan kan word.
Byleveld sê die huidige stelsel is onwerkbaar weens te veel burokratiese rompslomp. “Die uitbetalings moet gedesentraliseer en eerder met behulp van provinsiale departemente as nasionaal uitbetaal word. Die regering het reeds ’n goeie werkende stelsel vir droogtehulpuitbetalings wat as voorbeeld kan dien. Hierin werk die nasionale departement van samewerkende regering saam met die departement van landbou om provinsiale uitbetalings van droogtehulpkoepons te doen.”
Die departement van landbou het nie op navrae om kommentaar gereageer nie.