’n Navorsingsgroep hoop om met die hulp van boere doeltreffende maniere te vind om uitbrekings beter te verstaan en te voorspel en op omgewingsvriendeliker maniere te bekamp.
Foto’s van swerms sprinkane wat die lug oor die Karoo donker maak en dooie sprinkane wat vetterig aan bakkievoorruite en verkoelers kleef, is die afgelope somer wyd versprei.
Die goeie reën wat die einde van die droogte in ’n groot deel van die ekstensiewe weigebiede beteken het, het sprinkane in hul miljoene laat uitbroei en groot kommer oor die herstel van veld en boerderye ná die droogte laat ontstaan.