Sprinkane sak weer toe op gebiede in die Noord-Kaap en Namibië, en na verwagting kan hulle versprei, aldus Agri Noord-Kaap.
Mnr. Johan van Rensburg, hoof uitvoerende beampte, sê weens die reën wat in die provinsie geval het, het sprinkane sporadies weer begin uitbroei.
“Dis wel interessant om te sien dat van hulle ná slegs sowat 10 mm reën uitgebroei het. Gewoonlik het hulle meer as dit nodig,” sê Van Rensburg. Hy sê die Karoo word tans die ergste geraak. “In dié stadium is ons nog nie bewus van enige ernstige skade op plase nie.”
Vakansie
Van Rensburg sê dit is veral moeilik om tydens vakansietye die voorkoms en spuit van sprinkane te beheer omdat dit nie geredelik aangemeld kan word nie. “Van die boere en die spuitbeamptes is met vakansie, so dit sal nie gebeur soos dit tydens normale werkstye gebeur nie.”
Sprinkaanplae het die Wes- en Noord-Kaap aan die einde van verlede jaar ook geteister en boere groot probleme besorg. Duisende sprinkane wat in die voetgangerstadium was, is in die distrikte van Beaufort-Wes en Boesmanland gespuit.
Dit was in ’n poging om hulle te stuit voor hulle die vlieërstadium bereik, verder noord trek en slegs in die nag gespuit kan word.
Volgens Van Rensburg wissel die grootte van die sprinkane wat tans voorkom van voetgangers tot vlieërs.
12 Januarie 2012