
Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) met sy hoofkantoor op Swellendam het vanjaar ’n bonus van R20 miljoen, die grootste in sy geskiedenis, aan sy lede verklaar. Altesaam R4 miljoen van die bonus is as kontant aan lede uitgekeer, terwyl die res ’n uitstelde bonus is, sê mnr. Erenst Pelser, hoof uitvoerende beampte.
Die koöperasie het een van sy beste jare beleef. Die totale omset het met meer as 7% toegeneem tot R1,525 miljard in die finansiële jaar wat op 28 Februarie geëindig het. SSK het ’n bruto wins van R192,8 miljoen behaal. Graan (R78 miljoen) en Handel (R52 miljoen) was die grootste bydraers tot die bruto wins.
Uitbreiding
Die filiaalmaatskappye waarin SSK ’n direkte en indirekte belang het, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatksappy het ook besonder goed gevaar. Southern Oil Edms. Bpk., die enigste verwerker van kanola en vervaardiger van kanolaprodukte, het ’n netto wins van R96,78 miljoen behaal. Hessequa Abattoir, waarin SSK ’n belang van 52,78% het, se netto wins was R4,5 miljoen.
Ander uitbreidings die afgelope finansiële jaar is die 60%-belang wat SSK in Eureka Mills by Karringmelksrivier bekom het, en Procuro Grain, wat die koöperasie saam met gelyke vennote Overberg Agri en Unigrain gestig het. Procuro Grain bedryf ’n silokompleks met ’n opbergingsvermoë van 22 600 ton by Aureus naby Randfontein.