
Vleiskopers het tydens die Royal-skou in Pietermaritzburg, wat tot 4 Junie duur, die kans om van Suid-Afrika se beste vleis te koop. Die karkaskompetisie en -veiling, wat op 30 Mei by die Royal-skou plaasvind, is een van die gewildste geleenthede op die landboukalender vir plaaslike bees- en skaapvleisprodusente.
Landbouweekblad is die trotse mediaborg van dié geleentheid. Dit is ’n gulde koopgeleentheid vir kopers – tipies slagters of restauranteienaars – wat ’n premie sal betaal vir die beste karkas. Die vleis word tydens die Royal-skou aangewys as die beste wat Suid-Afrika bied.
Die gewildheid van die geleentheid herinner aan ’n veiling vir versamelaarswyne. Die kompetisie spog met vele rekords, onder meer vir die duurste skaapkarkas wat nog in Suid-Afrika verkoop is.
Rekords
Mnr. Mark Gietsman het in 2007 geskiedenis gemaak toe een van sy Ile de France-lammers vir die eerste keer op die skou die Suid-Afrikaanse skaaprasse geklop het en as die kampioenkarkas aangewys is.
Hy het ’n wêreldrekordprys van R3 000/kg gekry en hou steeds dié rekord. Me. Regina Harmse is sy opvolger nadat een van haar Ile de France-skaapkarkasse in 2015 gewen het. Dié keer is ’n bod van R1 100/kg vir die karkas op mnr. Mohammed Dawood van Willowton Meats toegeslaan.
Die karkaskompetisie word op Dinsdag 30 Mei om 16:30 in die Skaap Ekspo-saal gehou.
*Die jaarlikse Royal-skou het in 1851 begin en sedertdien ontwikkel tot een van die grootste landbouskoue in Suid-Afrika. Die landbouprogram lê veral klem op die veebedryf, maar daar is genoeg werktuie van verskillende maatskappye sodat besoekers ’n wye verskeidenheid landboumasjinerie kan sien. Klik hier vir meer.
Die wenners van 2014 se Royal-skou karkas-kompetisie. Foto: Johan van der Merwe