
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kom met baie planne en strategieë vorendag. Die landelike beveiligingstrategie is wat hom betref, een van een van bestes, het genl.maj. Jan Scheepers, adjunkkommissaris van sigbare polisiëring in Limpopo, op die onlangse kongres van Agri Limpopo gesê.
Die strategie se sukses hang egter van boere se betrokkenheid af. Scheepers het verduidelik dat die kernbeginsel daarvan is dat in elke distrik ’n boer of boere aan die stuur van die inisiatief moet staan. “Dit gebeur te gereeld dat polisielede verplaas word na ander eenhede of streke. Dan moet ons in daardie distrik van voor af begin as ’n polisieman die aanvoerder van die veiligheidsplan was.”
Die feit dat baie boere nie by hul distrikte se landelike beveiligingsplan betrokke is nie, dra daartoe by dat landelike beveiliging in sulke distrikte misluk, het Scheepers gesê. “As twee of drie boere nie betrokke is nie, maak dit ’n wesenlike verskil.”
Hy het gesê wanneer misdaad in ’n gebied afneem, verloor baie boere belangstelling en dan daag hulle nie meer op vir vergaderings nie. Dan word nie meer gereeld vergader op polisiekantoorvlak soos wat die plan vereis nie, en patrollies en paraatheid verslap.
“As dinge verkeerd gaan, kritiseer ons graag die landelike veiligheidsplan, maar die sukses van die plan rus op eenheid en volgehoue samewerking.”
Betrek plaaswerkers
Daarom doen hy ook ’n beroep op boere om hul werkers by landelike veiligheidstrukture te betrek. In 17 gevalle was boere of plaaseienaars in 2022 die slagoffers van misdaad, maar plaaswerkers was in 63 gevalle misdaadslagoffers. Daar is dus ’n groot aanslag op plaaswerkers.
Opkomende en bestaansboere moet ook betrek word. “Daar waar ons nie almal saamstaan nie, skep dit leemtes in die stryd teen misdaad. Dis juis hierdie boere wat erg onder veediefstal deurloop.”
Daar word gemiddeld 2 200 veediefstalsake per jaar by die polisie in Limpopo aanhangig gemaak. Die meeste van hierdie voorvalle is in gebiede waar daar nie sterk landelike veiligheidstrukture bestaan is nie, veral in voormalige tuislandgebiede.
Polisiekantore se veediefstaleenhede het oor die algemeen te min personeel en toerusting om hul werk na behore te doen. “Ons is besig om dit aan te pak, maar dit gaan ongelukkig lank duur om hierdie eenhede weer optimaal te kry.”
Nuwe eenhede
Diefstal van koper, sonpanele en pompe is ’n groot probleem in Limpopo en daarom het die polisie drie eenhede gestig om hierdie klagte te ondersoek.
“Die eerste eenheid in Polokwane werk reeds deur al die ou dossiere van sulke klagte om die modus operandi van diewe te bestudeer. Ons wil sien wat is hul voorkeure in omstandighede en eiendom waarop hulle hulle toespits. Daar is ook ’n eenheid in die distrik Waterberg gestig en nog een in die distrik Mopani. Ons hoop om teen die einde van die maand die eerste inhegtenisnemings te sien.”
Scheepers het gesê hierdie eenhede sal uitsluitlik op die diefstal en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur konsentreer, dus pompe, motors, kabels en sonenergietoerusting, asook die diefstal van Transnet en Eskom se toerusting in landelike gebiede.
Hy het ’n beroep op boere gedoen om verdagte bewegings en optrede rondom hul eie en staatsinfrastruktuur aan te meld.
“Die huidige ekonomiese toestand in Suid-Afrika is teelaarde vir meer en meer diefstal en selfs gewelddadige misdaad. Kom ons maak saam seker dat ons provinsie se boere veilig is.”