
“Die Regering en private versekeraars ondersoek verskeie beleidsmoontlikhede vir die ontwikkeling van 'n oesversekeringskema wat boere se druk kan verlig,” sê dr. Reshma Sheoraj, direkteur van versekering by die Nasionale Tesourie.
“Een van die voorstelle op die tafel is om die koste van versekeringspremies vir kommersiële en kleinboere se oesversekering te verminder, om dit meer bekostigbaar en toeganklik te maak,” het Sheoraj in 'n onderhoud gesê.
Volgens haar is beleidsmoontlikhede ná uitgebreide navorsing ontwikkel, maar is dit nog aan goedkeuring onderhewig. Beleidsgesprekke neem tans plaas in beide die Tesourie en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Uitdagings
Sheoraj sê die Regering is ten volle bewus van die uitdagings in die oesversekeringsbedryf en hoe belangrik oesversekering vir die landbou is om te floreer. Eise neem toe en klimaatsverandering speel hier 'n rol.
“Oesversekering word 'n riskante omgewing. Ons is bekommerd oor die dalende getal private rolspelers - net drie versekeraars bied sulke dekking.” Oor die langdurige gesprekke tussen die Regering en die private sektor sê Sheoraj: “Die Regering wil 'n omvattende oplossing ontwikkel, en dit neem tyd.”
Die kwessie geniet volgens haar egter beslis aandag. 'n Manier moet gevind word om 'n stewige vennootskap tussen die openbare en private sektor tot stand te bring, sê sy. Verder is die geldelike implikasies van die voorstelle vir die Regering baie belangrik, veral in die lig van die huidige ekonomiese omstandighede en druk op regeringsinkomste.
Sasria
Meer besonderhede oor oplossings volg dalk in die nasionale begroting. Sheoraj sê een van die moontlikhede wat die Regering ondersoek, is om Sasria se mandaat uit te brei sodat dit die administrasie van 'n premiesubsidie vir oesversekering kan hanteer.
Sasria is 'n regeringsagentskap wat politieke risikodekking teen byvoorbeeld betogings en stakings bied. Sheoraj sê as die Regering premies sou subsidieer, moet hy oor die administrasie kan toesig hou en behoorlike bestuur kan verseker.
Kleinboere
Die voorstelle op die tafel skenk ook spesifieke aandag aan opkomende boere. “Kleinboere moet gesteun word om bestendige, kommersiële boere te word. Versekering is een van die oplossings, maar daar is ook 'n hele aantal ander dinge wat in plek moet wees,” het Sheoraj gesê.
Mnr. Dino Lazaridis, versekeringsekonoom by die Tesourie, sê een moontlikheid is om indeksgegronde produkte te gebruik, wat suksesvol in Oos-Afrika ingespan word. Dit behels onder meer 'n maatstaf soos reënval, wat dan beteken kleinboere in 'n sekere omgewing uitbetalings ontvang as daar in 'n seisoen minder reën as die maatstaf val.
Lazaridis sê daar is egter 'n hele paar uitdagings, soos dat 'n maatstaf net kan werk in streke waar boere eenvormige boerderypraktyke, produksiemiddele en oeste het. Streke moet ook in groot besonderhede gekarteer wees.
Lazaridis sê in sommige Afrikalande is soortgelyke produkte ingefaseer en het rolspelers byvoorbeeld met saadversekering begin, pleks van oesversekering. Die produkte is dan later uitgebrei en meer produkte ook bygevoeg. 'n Groot kostevoordeel van indeksgegronde produkte is dat assessors nie plase hoef te besoek nie.