Die Regering is besig om te ondersoek hoe die pryse van monopolistiese semi-staatsinstellings kospryse beïnvloed.
Dít volg nadat dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye versoek het om die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) te betrek by ‘n studie oor die invloed van staatsgeadministrateerde tariewe op voedselpryse.
“Voedselpryse sal waarskynlik binnekort weer begin styg. Die reuse styging in staatsgeadministrateerde pryse sal waarskynlik die dryfkrag daaragter wees,” het Purchase na afloop van die onlangse CEO Forumvergadering aan Landbou.com gesê. Oor die afgelope maande het krag- en vervoertariewe dramaties gestyg en watertariewe kan ook binnekort met 50% styg.
Dr. Simphiwe Ngqagweni, direkteur van ekonomiese dienste by die DLBV, sê die departement is besig met só ‘n studie. Minimale konsultasie is blykbaar nog nodig voordat dit gepubliseer sal word. Terugvoer sal tydens die volgende forumvergadering gegee word.
Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) is besig met ‘n soortgelyke studie na die invloed van staatsgeadministrateerde tariewe op die hele Suid-Afrikaanse ekonomie.
13 Oktober 2010