
Verskeie provinsies ontvang tans droogtehulp van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) in die vorm van lusernbale, pille en molasse.
Volgens 'n verklaring van DAFF is R212 miljoen opsy gesit met die doel om boere met voer by te staan. Meer as 450 000 sakke droogtepille en 4 204 ton lusern is aan boere geskenk.
Hoewel 'n goeie seisoen in die somerreëngebiede heelwat bygedra het tot die herstel van weiding, is sommige dele van die land steeds in die knelgreep van 'n erge droogte vasgevang. Die Wes-Kaap, Oos-Kaap én Mpumalanga het al van dié hulp ontvang.
Kenhardt in die Noord-Kaap het Dinsdag (14 Maart) sy eerste besending droogtehulp ontvang en boere word aangemoedig om hiervan gebruik te maak.
Slegs boere wat by DAFF geregistreer het, kan voer ontvang, wat van verskillende punte versprei sal word.