
Nuwe wysigings aan die reëls wat deur die Nasionale Waterwet ingestel word, stel streng nuwe perke op hoeveel water uit riviere en boorgate onttrek en gestoor mag word.
Watergebruikers wat regte het om water uit riviere en boorgate op te berg ingevolge die watergebruik-kategorie wat die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) as “algemene magtigings” beskryf, sal teen Maart aanstaande jaar in sommige gebiede tot 148 000 m3 minder water per jaar mag neem as wat onder die huidige magtigings toegelaat word.
Die maksimum toelaatbare hoeveelheid water wat jaarliks op ’n eiendom gestoor mag word, is ook aangepas, en geld nou net vir damme wat nie in ’n stroom of rivier gebou is nie.
Verder stel die nuwe magtiging ook perke op die maksimum tempo waarteen water uit ’n bron onttrek kan word. In sommige gebiede is dié tempo ’n skamele 1 liter per sekonde, wat die waterkenner mnr. Adriaan Groenewald as “skrikwekkend min” beskou.
Rekords
Voorts moet enige gebruiker wat meer as 5 liter oppervlakwater per sekonde of meer as 2 liter grondwater per sekonde neem, dié waterverbruik meet en maandeliks aanteken. Die volume water wat geneem en opgeberg word, moet aangeteken word en dié aantekening moet vir minstens vyf jaar gehou word.
Gemagtigde amptenare het die reg om die aantekening van ’n gebruiker aan te vra. Versuim om dit te doen kom waarskynlik neer op ’n oortreding. Dié nuwe voorsienings is op 2 September in die Staatskoerant afgekondig en vervang die riglyne vir algemene magtigings wat in 2004 ingestel is en sedertdien verskeie kere verleng is.
Groenewald verduidelik dat algemene magtigings algemene waterverbruikstoestemmings is wat toegestaan word in gevalle waar die toestaan van ’n waterlisensie ’n onnodige administratiewe las op die Departement Water en Sanitasie sal plaas. As ’n gebruiker egter dié maatreëls oortree, kan die departement dié waterverbruik stopsit en jou beveel om om’n lisensie aansoek te doen.
Nuwe lisensies
Groenewald sê die ses maande grasie is toegestaan sodat gebruikers wat meer as die gespesifiseerde nuwe perke gebruik, om watergebruikslisensies kan aansoek doen.
’n Ander nuwe reëling ingevolgde die nuwe wetgewing is dat staatsbeheerde waterskemas en spesifieke opvanggebiede met waterprobleme, wat voorheen uitgesluit was van die algemene magtigings, nou ingesluit word, maar vleilande is egter nog steeds uitgesluit.
“Dit is belangrik om daarop te let dat dié magtigings gewoonlik gebiedsgebonde is en nie vanselfsprekend oral van toepassing is nie. Elke tipe watergebruik het daarop sy eie algemene magtigings en sy eie lys van gebiede waar dit van toepassing is,” sê hy.